Editor's choiceSchool sportSport

Help om sy rugbydroom te bewaarheid

Llewellyn is gekies om rugby in Mauritius te gaan speel

Die 12-jarige Llewellyn Terblanche van Laerskool Roodekrans se passie is rugby, en hy het nou die geleentheid om hierdie passie in Mauritius uit te leef.

Hy is een van ses rugbyspelers in die hele Gauteng wat onlangs gekies is om van 2 tot 9 Oktober aan ‘n eksklusiewe sewestoernooi in Mauritius deel te neem.

Llewellyn se pa, Pieter Terblanche het gesê, “Hy speel al die afgelope sewe jaar rugby by die skool. Hy speel ook vandat hy sewe was by die Roodepoort Rugbyklub, waar hy gereeld vir spanne bo sy ouderdomsgroep gekies is. Hy is tans lid van die klub se o.13-span.”

Hy het bygevoeg dat Llewellyn al aan menige sewestoernooie deelgeneem het. Hy is daartydens deur die Rams Rugby Academy raakgesien en gekies om aan die Mauritius-toernooi deel te neem.

“Llewellyn leef, eet en slaap rugby, en by hom is daar geen twyfel dat hy eendag die groen en goud oor sy kop gaan trek nie. Dit sal vir hom so baie beteken as hy die toernooi kan bywoon. Die feit dat hy erkenning vir sy ongelooflike talent gekry het, is ‘n droom wat bewaarheid is,” het Pieter gesê.

Llewellyn speel nie net rugby nie, hy is ook ‘n kranige atleet wat aan verspring, hoogspring en naellope deelneem. “Hy was die afgelope twee jaar die skool se victor ludorum, en het ook Gauteng-Wes-kleure vir hoogspring behaal,” het ‘n trotse Pieter vertel.

Die Mauritius-sewestoernooi word vanjaar vir die sesde jaar aangebied en die hooforganiseerder is die voormalige Springbok-rugbyspeler, Cabous van der Westhuizen. Spelers van onder meer Mauritius, Suid-Afrika, Madagaskar en Reunion gaan deelneem, en die span vir die sewestoernooi in Dubai word ook daar gekies.

Alhoewel dit ‘n baie groot eer en voorreg vir Llewellyn en sy ouers is, is daar een struikelblok – die geld wat daarvoor nodig is. “Die toer kos R28 500 per persoon, wat alles insluit. Ek het reeds R5 000 inbetaal sodat ons sy droom kan bewaarheid en aan ons kind se toekoms kan help bou,” het Pieter verduidelik.

Hy het bygevoeg dat donasies direk in die Rams Rugby Academy se rekening inbetaal word met RAMS13 as verwysing, wat verseker dat elke sent vir die regte doel aangewend sal word. “Cyconic (Edms) Bpk het ook onderneem om telkens wanneer ‘n skenking gedoen word, dieselfde bedrag te skenk,” het hy vertel.

Vir meer inligting, asook die bankbesonderhede, kontak Llewellyn se ma, Karen Terblanche by 074 886 2308.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes

Randfontein Herald

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button