Editor's choiceLocal newsNews

Witpoortjie groet geliefde Pietertjie – ‘Ek wou nog gister vir hom ‘n nuwe loopraam koop’

Pietertjie se suster het hom gisteroggend dood in sy slaapkamer aangetref.

Verskeie parkeerterreine in die area gaan voortaan ‘n bietjie leër voel sonder die bekende en geliefde glimlag van Pieter ‘Pietertjie’ Erasmus.

Pietertjie is gister, Maandag 4 Junie na ‘n hartaanval in sy suster, Meisie Stander se huis oorlede. Sy het die afgelope 24 jaar vir Pietertjie gesorg.

Hy het gereeld by onder andere die Witpoortjie Mediese Sentrum in McGrathstraat en by Pick n Pay se parkeerterrein as motoroppasser gewerk.

Pietertjie tydens sy verjaarsdagvieringe op 27 Mei.

Hy het altyd ‘n vriendelike woordjie vir almal gehad, en het graag ‘n geselsie met mense aangeknoop.

Pietertjie het in Oktober 2016 ‘n nare ongeluk oorleef, waartydens hy sy heup erg gebreek het.

Also Read: Pietertjie sterk aan na operasie

Daarna kon hy nie sonder ‘n loopraam oor die weg kom nie en sy dae van rondloop was verby. Volgens Meisie het Pietertjie daarna aansienlik verswak.

Hy kon gevolglik ook nie meer so gemaklik karre oppas nie, al was dit iets waarvoor hy lief was. Hy het egter steeds sy kliënte gaan groet.

Hy moes onlangs twee reekse antibiotika voltooi, die laaste slegs twee dae voor sy dood.

Pietertjie het al hoe sieker geword en gisteroggend is Meisie se ergste vrees bewaarheid. Sy het hom, toegedraai in komberse, op sy slaapkamervloer aangetref.

“Ek moes die komberse loswikkel voor ek kon sien dat hy nie beweeg nie,” het Meisie bewoë vertel.

Sy het bygevoeg dat hy vermoedelik tussen 4vm en 5vm weens ‘n hartaanval sy laaste asem uitgeblaas het.

Pietertjie het ‘n paar weke gelede geval.

“Toe hy geval het, het sy loopraam heeltemal gebreek. Ek het beplan om hom gister weer dokter toe te neem en vir hom ‘n nuwe loopraam te koop,” het sy gesê.

Meisie glo dat Pietertjie altyd onthou sal word as iemand met ‘n groot liefde vir mense.

“Hy was verskriklik lief vir mense, en hy was ‘n voorbeeld vir almal.”

Teen publikasietyd was die begrafnisreëlings nog nie getref nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes

Randfontein Herald

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button