
Ons is 70-jarige pensioenarisse. Ons het in 2002 na Carletonville verhuis en moes ons huis in Witpoortjie uitverhuur. In 2012 het ons teruggetrek en ‘n agterstallige water-en-ligterekening van R35 000 ontvang.
Die huurders het vir 10 jaar in ons plek gebly. Hulle het die water-en-ligterekening by die munisipale kantoor op hulle naam gesit sodat hulle persoonlik daarvoor verantwoordelik kon wees. Die man is ongelukkig na ‘n jaar oorlede en dit blyk dat die rekening opgehoop het tot ons die rekening, asook ons eie rekening wat op ons naam was, ontvang het. Die krag is ook nooit afgesny as gevolg van geen betaling nie.
Ons is op en af heen en weer gestuur, en net toe ons dink die ding gaan nou raakgevat word, is ons weer rondgestuur. ‘n Dame by die Burgersentrum het ons probeer help. Sy het gesien dat die skuld op die rekening dié van die huurders is. Sy het dit van ons rekening afgehaal. Die twee rekeninge het toe een geword en ons was net verantwoordelik vir ons rekening.
Nadat die huurders se rekening afgeskryf is, het ons nog R2 000 geskuld. Ons het die R2 000 betaal en huis toe gegaan. ‘n Week later bel ‘n man van City of Joburg my en vra wie by die Burgersentrum op ons rekening gewerk het. Ek het die dame se naam vir hom gegee en sy reaksie was “She is F****UP and she don’t know what she is doing”.
Na sy oproep aan my is die krag toe vir die eerste keer na al die jare afgesny. Ek en my man is weer City of Joburg toe om reëlings te tref vir die afbetaling van die R35 000 net om die krag weer aan te kry.
My gevoel hieroor is dat ek nie verantwoordelikheid kan aanvaar vir ‘n ander persoon se rekening nie. Ons het die afgelope vier jaar met ons karavaan rondgetoer, want ons moes die huis weereens uitverhuur om die agterstallige water-en-ligterekening te kon betaal.
Ek het met ‘n mnr Tuwani by City of Joburg gepraat en gevra of die rekening nie afgeskryf kan word nie. Hy het gesê hy sou dit kon doen toe die ANC die munisipale kantoor bedryf het, maar die DA het pas oorgeneem en dit sal nog ‘n ruk wees voor hulle die groen lig kry om sulke dinge te kan doen.



