Kaptein Renier nou aan die stuur by Laerskool Florida
Florries verwelkom nuwe hoof
Daar is ‘n nuwe kaptein aan die stuur by Laerskool Florida en hy is slaggereed vir die nuwe verantwoordelikhede en uitdagings.
Die 36-jarige Renier van Eyssen het vertel dat hy baie verlig was toe hy die oproep ontvang het om hom in te lig dat hy nou amptelik die nuwe skoolhoof is. “Ek het reeds verlede kwartaal as hoof waargeneem, en toe ek die oproep van die Departement van Onderwys ontvang, was my eerste gevoel dié van dankbaarheid. Ek voel ook baie geëerd dat die gemeenskap, onderwysers, beheerliggaam en leerders genoeg vertroue in my het om my aan die stuur van hierdie boot (die skool) te plaas,” het hy gesê.
Renier is reeds 16 jaar in die onderwys en, alhoewel hy dit nou vir niks sal verruil nie, was dit nie sy eerste beroepskeuse nie. “Ek het aanvanklik BCom (Sportbestuur) by die destydse RAU studeer, en het eers nadat ek my eerste pos as afrigter by ‘n Engels-medium privaatskool gekry het, besef dat ek dalk eerder ‘n onderwyser sou wou wees. Ek het my nagraadse studie by Unisa voltooi en by Laerskool Florida begin skoolhou. Daarna het ek ‘n bevorderingspos gekry en by Laerskool Dr Havinga gaan skoolhou. In daardie tyd het ek my Honneursgraad voltooi. Daarna is ek as adjunkhoof weer by Laerskool Florida aangestel,” het Renier vertel.
Hy het bygevoeg dat hy vanjaar met sy Meestersgraad begin het, waarvoor hy op personeelontwikkeling gaan fokus. “Die verdere studie gaan nie net oor die kwalifikasie of die kennis nie, maar dit is vir my ‘n passie. Ek hou van leer. Al is dit nie altyd lekker nie, maak die eindresultaat dit altyd die moeite werd,” het hy laggend gesê.
Renier het bevestig dat hy nie nou skielik alles gaan probeer verander nie. “Die grootste verandering wat ek wél aangebring het, was om vir ons ‘n jaartema te kies, en ook om die vyf Florrie-waardes in te bring. Hierdie waardes is nie noodwendig skoolreëls nie, maar kan daaraan gekoppel word. Die leerders kan ook hierdie waardes na skool toepas, wanneer hulle by die huis is,” het hy verduidelik.
Renier het met die volgende boodskap afgesluit, “Ek wil begin deur elkeen te bedank vir hierdie wonderlike geleentheid. My gebed is dat ons almal saam die reis vanjaar sal onderneem, en dat alles wat ons dink, doen en besluit, tot voordeel van ons kinders sal wees.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



