Editor's choiceNewsSchools

Hokkie-meester met SA-kleure beloon

'Dit wat ander spelers op 20 bereik het, het ek op 60 bereik'

 

“Die proewe was nie maklik nie en ek moes hard werk om die beloning te kry,” het die 61-jarige Retha van der Walt gesê.

Sy is onlangs tot die Suid-Afrikaanse Meestershokkiespan verkies wat later vanjaar aan die Wêreldbekertoernooi in Spanje gaan deelneem. Die proewe het oor drie rondtes plaasgevind, en Retha het verduidelik, “Die eerste rondte het verlede jaar in September in Johannesburg plaasgevind, en ons was agt doelwagters wat deelgeneem het. Vier van ons het deurgedring na die tweede rondte in Kaapstad, en aan die einde van die dag was daar twee van ons oor wat tydens die derde rondte in Durban moes uitspeel vir ‘n plek in die span.”

Sy het bygevoeg dat sy nogal senuweeagtig was vir die laaste rondte omdat haar teenstander 10 jaar jonger as sy was.

“Ek het begin om by die huis te oefen en my fiksheid en soepelheid te verbeter sodat ek op my beste kon wees.”

Retha het vertel dat hulle laaste proewe in moeilike omstandighede plaasgevind het, omdat dit baie warm en bedompig in Durban was. “Ons laaste proewe van die naweek het ons in die reën gespeel, en dit was moeilik. Ek het nogal gedink dat ek my kanse verspeel het om ‘n plek in die span te kry, want ek het dié dag twee doele laat deurgaan,” het Retha gesê.

Sy het vertel dat sy verstom was toe hulle haar naam lees en het met ‘n groot glimlag gesê, “Toe hulle my naam roep moes ek net die trane terughou. Ek was so verbaas. Toe ek my kepsie ontvang het, wou my bors bars van die trots. Die trane het wél later gevloei toe ek my suster gebel het om haar die goeie nuus te vertel!”

Retha van der Walt is tot die SA Meestershokkiespan verkies. Foto’s: Adéle Bloem

Dit is vir Retha ‘n groot eer dat sy haar land kan verteenwoordig as een van die beste spelers in haar ouderdomsgroep en alhoewel sy ‘n bietjie senuweeagtig is, is sy ook baie opgewonde. “Ek kan nie wag om op die veld te staan terwyl die volkslied gespeel word nie. Om te dink dat ons nie net ‘n vriendskaplike wedstryd of twee gaan speel nie, maar dat ons dalk die wêreldbeker kan wen en as die beste in die wêreld gekroon kan word – dit is ongelooflik!” het sy gesê.

Retha is ‘n bekende in hokkiekringe. Sy is baie betrokke by Laerskool Dr Havinga se hokkie-afrigting, by Suid-Gauteng Hokkie en is Hoërskool Bastion se eerstespanafrigter. “Dit is vir my ‘n beloning vir baie jare se harde werk, want ek het op 60 iets bereik wat baie ander reeds op 20 kon regkry,” het sy in haar skik vertel.

Maar, die eer kom ook met groot onkostes en Retha het vertel dat alles (die toernooi, vlugkaartjies, klere en akkommodasie) ongeveer R50 000 gaan kos, wat die spelers self moet betaal. “Ek het nogal geglimlag toe ons die brief met die uiteensetting van kostes ontvang het, want die pryse is in Euro gegee. Dit het nie so sleg gelyk nie, maar toe ek dit in rand omskakel het die prentjie heel anders gelyk! Maar, ek is gereed om my land te gaan verteenwoordig en my beste te gaan gee, en is baie dankbaar vir die ongelooflike ondersteuning wat ek alreeds ontvang het,” het sy gesê.

Die Wêreldbekertoernooi word van 25 Julie tot 6 Augustus in Barcelona aangebied waar nagenoeg 11 ander spanne van regoor die wêreld vir die groot eer gaan meeding.

Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at roodepoortrecord@caxton.co.za (remember to include your contact details) or phone us on 011 955 1130.

For free daily local news on the West Rand, also visit our sister newspaper websites 

Randfontein Herald

Krugersdorp News 

Get It Joburg West Magazine

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages to let your voice be heard!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button