Editor's choiceLocal newsNews

‘Ek borduur want dit is vir my lekker’

'Borduurwerk is nie nét vir oumense nie'

 

“Die kuns van handborduurwerk is iets wat nie meer so gereeld beoefen word nie, want daar is ‘n wanopvatting dat dit net vir ‘ou’ mense is.

“Maar dit is nie die geval nie, want as jy met ‘n naald en gare kan werk, kan jy borduur,” het die 68-jarige Sarie Webster gesê. Sy het in 1993 begin om borduurwerk te doen, en hou steeds daarmee vol. “Ek het seker al 120 prentjies geborduur, en my man vertel my gereeld ons het nie meer plek op die mure vir nuwe kunswerke nie. Dit is wanneer ek vir hom sê om so een of twee af te haal, dan hang ek die nuwes teen die muur en die kinders kry die ander as geskenke,” het sy vertel. Sy het bygevoeg dat sy vir haar kinders en kleinkinders elke jaar vir hul verjaarsdae ‘n spesiale prentjie borduur, wat hulle vir altyd kan koester.

Van Sarie se borduurwerke wat sy al voltooi het.

Sarie het vertel dat daar baie verskillende soorte borduurwerk is – van lintwerk tot goudwerk. “Vir al die verskillende soorte borduurwerk word basies dieselfde tipe steke gebruik; dit is gewoonlik net die materiaal en gare wat ‘n bietjie verskil,” het sy verduidelik.

Van Sarie se borduurwerke wat sy al voltooi het.

Sarie se kunswerke sluit alle tipes tegnieke in, en sy verkies om eerder haar eie ontwerpe te teken en dan te borduur. “Ek hou nie so baie daarvan om die voorafgedrukte prentjies te borduur nie. Ek trek veel eerder my eie prentjie af. Ek gebruik baie tipes steke en baie verskillende tegnieke in een prentjie, wat ook 3D insluit,” het Sarie opgewonde vertel.

Wat haar borduurwerk nog meer interessant maak, is dat sy dit met die hand doen en nie met ‘n masjien nie. “Ek doen alles met die hand, want dan is dit nie perfek nie. As jy met ‘n masjien werk, lyk dit net té perfek!”het sy glimlaggend vertel,

In ‘n poging om hierdie kunsvorm nie te laat uitsterf nie, het sy 18 jaar gelede begin om twee dae per week klasse by die Embroidery Den in Horison aan te bied. Sy het gesê, “Ek bied klasse aan op Maandae en Saterdae van 9vm tot 12 die middag, en ek gaan ook binnekort op Donderdae klasse by Bernina in Krugersdorp aanbied.

“Enige iemand is welkom om die klasse by te woon. As jy jou eie goedjies het, kan jy dit saambring, andersins is alles wat jy sou nodig hê, by die winkel beskikbaar.

Dit is vir my lekker om my kennis oor te dra, en ek moedig altyd almal aan om nie net een ding oor en oor te borduur nie, maar om nuwe goed te probeer,” het sy gesê.

Van Sarie se borduurwerke wat sy al voltooi het.

Vir Sarie is borduurwerk ‘n noodsaaklike deel van haar bestaan en, as sy nie borduur nie, voel dit vir haar of sy onttrekkingsimptome kry. “Ek geniet dit om te sien hoe die prentjie lewe kry terwyl ek borduur, en dit is vir my baie kalmerend. Ek sit baie graag voor die televisie en borduur, want dit help my ook om ‘n bietjie af te wen. Ek hou van die satisfaksie wat ek kry wanneer ek ‘n prentjie voltooi het, want ek kan sê dat ék dit gedoen het. Borduurwerk is goed vir jou siel, want dit is mooi en lekker om te doen,” het sy afgesluit.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes

Randfontein Herald

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button