Editor's choiceLatest SportSport

Wes-Rand Stoeigimnasium pak die nuwe jaar aan

'Ek wil net die beste uit elke stoeier kry'

 

“My doel vir hierdie jaar, soos elke ander jaar, is om soveel Suid-Afrikaanse kampioene as moontlik te kweek,” het Juan Nel gesê.

Hy is die hoofafrigter by die Wes-Rand Stoeigimnasium (WSG), en hulle het reeds die nuwe jaar op ‘n drafstap afgeskop. “Al het ons nou net begin, is ons stoeiers reeds besig om teen ‘n hoë tempo te oefen, en dit is baie goed om te sien,” het Juan vertel.

Hierdie jaar is ook die WSG se 20ste bestaansjaar, en hulle het baie groot planne om dit te vier. “Ons jaarlikse Wes-Rand Challenge gaan baie spesiaal wees en al kan ek nog nie al die besonderhede bekend maak nie, is ons baie opgewonde. Ons sal, nader aan die tyd, al die reëlings deurgee,” het hy gesê.

Dylan van der Merwe probeer om vir Celine van Oudtshoorn vas te pen.

Hy het bygevoeg dat stoei baie voordele inhou, en het gesê, “Behalwe dat dit baie goed is vir rugbyspelers en help met hul vaardighede, help dit met selfvertroue en selfdissipline. Dit leer jou om jou man te staan.”

Juan wil ook graag hierdie jaar meer senior stoeiers by die klub betrek, asook meer vrouestoeiers. “Ons het reeds twee meisies wat hier stoei, en daar is heelwat van die stoeiers se pa’s wat saam oefen,” het Juan vertel.

Een van die WSG se vrouestoeiers, die 10-jarige Celine van Oudtshoorn, het ‘n paar minute van haar oefentyd afgestaan om vinnig met die Record te gesels.

Celine van Oudtshoorn maak reg om Dylan van der Merwe op die mat te kry.

Sy het vertel dat sy al ‘n jaar by die WSG oefen, en dit vreeslik geniet. “Ek het oorspronklik net saam met my pa-hulle gekom terwyl my boetie oefen, en gedink ek wil dit ook probeer. Toe ek eers begin oefen het, wou ek nie ophou nie, want dit was net te lekker!” het sy entoesiasties vertel.

Celine het bygevoeg dat die seuns by die klub maar eers ‘n bietjie versigtig met haar gewerk het, maar toe sy hulle begin wen, het hulle ernstig begin terugstoei, en nou word sy as een van die manne beskou. “Ek neem nie net aan stoei deel nie, ek doen ballet ook. Vandat ek begin stoei het, het my balans verbeter en my bene is ook baie sterker,” het sy gesê.

Celine van Oudtshoorn demonstreer ‘n gooi op Dylan van der Merwe. Foto’s: Adéle Bloem

WSG gaan vanjaar met ‘n nuwe program begin, waar gemeenskapslede kan help om ‘n verskil in ‘n minderbevoorregte kind, wat regtig wil stoei, se lewe kan maak. Juan het verduidelik, “Ons wil ‘n Adopt-a-wrestler-program begin, waar ons vir minderbevoorregte kinders die geleentheid wil gee om ook aan stoei te kan deelneem – én presteer.”

Die WSG oefen Maandae en Woensdae van 6nm tot 8nm by die Witpoortjie Ontspanningsentrum en almal – af vier tot 40-jaar oud – is welkom. “Wanneer voornemende stoeiers die gimnasium besoek, bied ons hulle ‘n gratis proeftydperk van twee weke aan waartydens hulle kan oefen en dan besluit of hulle met die sport wil voortgaan,” het Juan gesê.

Vir meer inligting oor die WSG, kontak Juan Nel by 083 411 3758 of Francois Buys by 082 853 082 853 5357, of besoek hulle Facebook blad (Wesrand Stoei Gimnasium).

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes

Randfontein Herald

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button