Sy volg in haar pa se voetspore
"Ek wil nog 'n wêreldkampioen-skopbokser word'
“Aan die begin was ek nogal spyt dat ek hierdie sport gekies het, want ek het baie fiksheid gedoen! Maar nou geniet ek dit vreeslik baie.”
Die 11-jarige Zanel van Eeden het in Maart verlede jaar by die Honour Wrestling Association – Steve Eden Training Centre by die Team Rage Kickboxing Club aangesluit, en het reeds agt medaljes – vier goud en vier silwer – verower.
Sy het tydens haar eerste kampioenskap een goue- en twee silwermedaljes gekry. “Ek het voor my eerste geveg ‘n bietjie in myself getwyfel en was baie senuagtig, maar toe dit verby was, het ek sommer baie beter gevoel. Soos ek fikser geword en my tegnieke verbeter het, het ek baie meer selfvertroue gekry,” het Zanel vertel.”
Sy het met die sport begin omdat haar pa dit aanbeveel het. “Ek het met skopboks begin om fiks te word, want die kinders by die skool het my baie gespot. Ek het die afgelope jaar baie vriende gemaak, en my selfvertroue en selfbeeld het baie verbeter,” het Zanel gesê.
Zanel het bygevoeg dat sy definitief skopboks sal aanbeveel. “Jy leer om jouself te verdedig terwyl jy fiks word. Dit is ook baie goed vir jou selfvertroue en selfbeeld. Wanneer ek groot is, wil ek graag ‘n skopboks-wêreldkampioen wees,” het sy gesê.
Haar volgende doel is om volgende jaar Gauteng-, sowel as Suid-Afrikaanse kleure te verwerf.
Haar pa, Steve Eden (‘n Suid-Afrikaanse rofstoeikampioen) het bygevoeg dat haar fokus ook baie verbeter het. “Zanel wou eers net haar fiksheid verbeter, maar sy het gou besef dat dit iets is waarmee sy baie goed is. Sy is ongelooflik gedissiplineerd en ook baie kompeterend – soos haar pa – en dié eienskappe het haar gehelp om uit te blink,” het hy met ‘n groot glimlag vertel.
Zanel was ook dié jaar onder die toppresteerders in Laerskool Florida se netbal- en atletiekspan. Sy het boonop op kultuurgebied presteer en was elke kwartaal een van die Top 20 akademiese presteerders.“Ons is baie trots op haar. Haar prestasies is die gevolg van harde werk, vasberadenheid en deursettingsvermoë. Sy weet ook dat ons haar altyd sal ondersteun, maak nie saak watter sport sy kies nie,” het Steve gesê.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



