Editor's choiceLocal newsNews

Maak seker jy #geeREG

Moenie net gee nie, #geeREG

 

Motoriste in Suid-Afrika wat stadspaaie gebruik, ken die frustrasie wanneer hulle by ‘n verkeerslig stop en ‘n bedelaar sy bordjie onder hul neuse indruk.

Maar, wat doen jy? Kyk jy anderpad? Gee jy geld, of dalk kos? Of, maak jy net jou venster toe en staar voor jou uit, sonder om oogkontak te maak?

Volgens Solidariteit Helpende Hand is armoede in Suid-Afrika besig om teen ‘n kommerwekkende tempo te groei, met meer as 30,4 miljoen mense (net in Suid-Afrika!) wat in armoede lewe. Dieselfde prentjie word vir lande soos Argentinië en Puerto Rico geskets.

Die Verenigde Nasies het gevolglik 17 Oktober opsy gesit as die Internasionale Dag vir die Verbreking van Armoede. Die doel is dat daar wêreldwyd na oplossings vir armoede gesoek word, en dat die planne wat in een land werk, in ander lande geïmplementeer kan word om so oral ‘n verskil te kan maak.

Volgens ‘n mediavrystelling noem Solidariteit dat ‘n deel van die oplossing beslis nie is om vir mense geld te gee en hulle verder in hul kwaad sterk nie. As jy iemand bly voorsien van lewensmiddele, voorkom jy dat daardie persoon onafhanklik word. Jy dink jy doen goed, maar eintlik hou jou geld die persoon afhanklik.

Bepaalde skrywers soos Robert D Lupton (Toxic charity), en Steve Corbett en Brian Fikkert (When helping hurts ) wys daarop dat organisasies soos kerke wat dikwels eenmalige projekte of sopkombuise het, net die probleem vererger. Hulle verduidelik hoe om nie net te gee nie, maar reg te gee.

Solidariteit Helpende Hand het besluit om na die regte beginsels van gee te kyk sodat armoede op ‘n volhoubare manier verlig kan word en het in 2015 die #geeREG-veldtog geloods. Dié veldtog is daarop toegespits om mense bewus te maak van die leemtes in die manier waarop hulle gee. Tydens hierdie veldtog was dit duidelik dat baie van die bedelaars in die strate van Pretoria en Centurion die geld wat goedhartiges vir hulle gee, gebruik om dwelms mee te koop.

In 2017 het navorsing getoon hoe ver die probleem strek – dit raak selfs gegoede mense asook jong skoolkinders. Die publiek word gevolglik aangemoedig om saam te werk om iets aan die bedelaarprobleem regoor die land te doen, deur reg te gee.

In plaas daarvan om jou geld vir ‘n bedelaar by ‘n verkeerslig te gee, gee dit eerder vir ‘n geregistreerde organisasie wat op ‘n volhoubare wyse bedelaars help. Deur die #geeREG-veldtog ondersteun Helpende Hand die Moeggesukkel-rehabilitasiesentrum, waar jong mans bearbei en gehelp word om van die straat af te kom en oor te begin.

Vir meer inligting oor hierdie projek, besoek die webblad op www.geereg.co.za.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes

Randfontein Herald

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button