Drie nuwe SA-kampioene vir stoeiklub
Stoeiers blink uit tydens SA-kampioenskappe
Stoeiers van die Wes-Randse Stoei Gimnasium het aan die onlangse Suid-Afrikaanse Jeugkampioenskappe deelgeneem, en het rede om breëbors rond te stap.
Na afloop van die kampioenskappe het agt stoeiers hul Sentraal-Gauteng-kleure verwerf, en die klub kan ook met drie nuwe Suid-Afrikaanse kampioene in Grieks-Romeinse asook Vrystyl spog.

Tylor Burket, Tiaan Classen en Ruan Nel het ‘n vyfde plek tydens die kampioenskappe verower, terwyl Daniel Blokdyk (Grieks-Romeins), Zander Vorster (Vrystyl) en Johan Heyns (Grieks-Romeins) almal gouemedaljes verower het, en is vir die eerste keer as SA-kampioene gekroon.
Marco Maree het vroeër vanjaar ‘n gouemedalje, asook Suid-Afrikaanse kleure tydens die Presidente Kampioenskappe verwerf, en hy was ook die enigste stoeier in Sentraal-Gauteng wat ‘n gouemedalje vir Grieks-Romeinse én Vrystyl tydens die SA Jeugkampioenskappe kon verower.

Johan Heyns het, behalwe die gouemedaje vir Grieks-Romeins, ook ‘n silwermedalje vir Vrystyl verower, terwyl Victor Coetzee ‘n bronsmedalje vir Vrystyl verower het.
Een van die klub se afrigters, Juan Nel het ook baie goed presteer tydens die Meesters Wêreldkampioenskappe wat in Plovdiv, Bulgarye plaasgevind het. Hy het ‘n bronsmedalje vir beide Grieks-Romeinse en Vrystyl verower.

Juan het vertel dat hulle baie trots is op elk stoeier se prestasie, en gesê, “Alhoewel stoei voordele inhou vir elkeen wat dit beoefen, is dit veral goed vir die seuns wat rugby speel. Wanneer ‘n rugbyspeler ook stoei, kan ek onmiddellik die verskil op die rugbyveld sien.”
Die klub oefen Maandae- en Woensdae-aande van 6nm tot 8nm by die Witpoortjie Ontspanningsaal. Vir meer inligting, kontak Juan by 083 411 3758 of Francois by 082 853 5357.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



