Editor's choiceLocal newsNews

Die enjins gaan brul teen plaasmoorde

Jy kan nie die pretdag misloop nie – onthou dit is vir boere, plaaswerkers en families om hulle te help beskerm teen plaasgeweld.

 

Die lug om Hartbeespoortdam gaan op 16 September gevul word met die gebrul van motorfietse.

“Die Nasionale Motorfietsvereniging en sy assosiate gaan die dag fondse insamel om boere en plaaswerkers teen plaasaanvalle te help beskerm. Dié fondse sal tydens Agri SA se kongres in Oktober aan die Agri Securitas Trustfonds oorhandig word,” het Ben Stander, voorsitter van die reëlingskomitee gesê.

“Ons as motorfietsentoesiaste kan nie langer terugsit en toesien dat boere en plaaswerkers wat ‘n bate vir ons land is, vermoor word sonder dat ons iets daaraan doen nie.

Daarom reël ons die pretdag by die Hartbeespoortdam-vakansieoord om fondse in te samel vir die Trustfonds. Ons kan ons vereenselwig met die werk wat die Trustfonds doen om die boerderygemeenskap teen plaasaanvalle te help beskerm. Ons is oortuig daarvan dat die Trustfonds die regte voertuig is om die fondse te ontvang,” het Piet Jooste, lid van die reëlingskomitee gesê.

Kiewiet Ferreira, waarnemende voorsitter van die Agri Securitas Trustfonds het gesê dat, “die Trustfonds waardering het vir die welwillendheid van die motorfietsvereniging teenoor die boerderygemeenskap, om hulle by te staan om die huidige misdaadprobleem te help oorkom. Onlangse mediaberigte het weereens die geweld teenoor die boerderygemeenskap op die voorgrond geplaas en daarom is die trustees dankbaar vir die tyd wat professionele mense en lede van die publiek opoffer om boere in hierdie krisistydperk by te staan.”

Lede van die publiek en boere word genooi om te kom deel in die pret wat gedurende die dag aangebied sal word en die poging om fondse in te samel waardeur boere en plaaswerkers beskerm kan word. Daar sal hope vermaak, eet- en drinkgoed beskikbaar wees. Verskeie kunstenaars het hulle dienste gratis beskikbaar gestel om hul deel by te dra tot die fondsinsamelingsprojek. Almal is welkom om die dag te kom ondersteun en hekke open reeds om 8vm.

Ter afsluiting het Stander gesê, “Dit is nou lede van die publiek se tyd om ‘n deel by te dra om ons boere en plaaswerkers te ondersteun. Ons kan nie net aanhou praat oor die probleem nie, nou kan almal iets bydra. Jy kan nie die pretdag misloop nie – onthou dit is vir boere, plaaswerkers en families om hulle te help beskerm teen plaasgeweld. Ons vereenselwig ons ook met die doelstellings van die Agri Securitas Trustfonds en die werk wat hulle doen om die boerderygemeenskap te help beskerm.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes

Randfontein Herald

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button