Dewald Wasserfall bekoor by Florrie-fees
Oud en jonk het die optrede geniet
Hoërskool Florida se jaarlikse Jeug Oor Kultuur- (Jok-) fees het vir ‘n week van opwinding en pret gesorg, maar die hoogtepunt was beslis Dewald Wasserfall se optrede.
Die skoolsaal was volgepak en die atmosfeer was een van afwagting en opgewondenheid – en die gehoor is nie teleurgestel nie.
Die aand se verrigtinge is geopen met ‘n optrede van die musiekgroep Wolwe-Dans, wat uit die skool se eie onderwyser-duo van Landru Ehlers en Danré van der Spuy bestaan.

Hulle het die gehoor met oorspronklike snitte vermaak en die tafel behoorlik gedek vir die aand se hoofkunstenaar.
Toe die laaste note van Wolwe-Dans se laaste nommer weggesterf het en die saal se ligte verdoof is, het ‘n stilte vol afwagting oor die gehoor gedaal. Dit is deur ‘n oorverdowende gejuig verbreek toe Dewald sy verskyning op die verhoog gemaak het.

Hy het die gehoor behoorlik bekoor met snitte soos, Vergeet wat jy weet van liefde, Altyd jonk bly, Sewentien, Suikerbos, Jy was reg, Eendag as ons groot is en Een brandewyn weg van beautiful. ‘n Paar van die lede van die gehoor het selfs ‘n paar danspassies tydens die vertoning uitgevoer.
Na afloop van die vertoning het Dewald ‘n tydjie afgeknyp om foto’s saam met sy aanhangers te neem en handtekeninge uit te deel.

Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at roodepoortrecord@caxton.co.za (remember to include your contact details) or phone us on 011 955 1130.
For free daily local news on the West Rand, also visit our sister newspaper websites
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages to let your voice be heard!



