Paniek by laerskool ongegrond
Mans wat vuur gemaak het vir hitte aangesien as boewe
Menige ouers van Laerskool Generaal De La Rey was vanoggend paniekbevange nadat ‘n misverstand tot ‘n gerug gelei het dat gewapende mans skoolkinders wou ontvoer.
Die hoof, Peet Badenhorst het aan die Record verduidelik wat werklik gebeur het.
“Ek het wel aan ‘n ouer gesê dat die kinders eers van 7.30vm af die skool se verantwoordelikheid is, maar dit is uit verband geruk. Ten spyte dat dit waar is, kom ek uit eie wil reeds 6vm werk toe omdat ek verstaan dat sommige mammas en pappas geen ander opsie het as om hul kinders so vroeg af te laai nie. Ek het ook vir die leerders gesê dat hulle in ‘n groepie by die kantoor moet kom sit en nie afdwaal nie. Vanoggend het ‘n ouer of ouers drie mans naby die skool gesien, gedink hulle is dwelmhandelaars en ons sekuriteitsmaatskappy, Dunmar Security, geskakel om te gaan ondersoek instel,” het Badenhorst verduidelik.
Lees ook: Pumped for the new year
“Die gewapende sekuriteitsbeamptes het toe gaan ondersoek instel en gevind dat die drie mans bloot ‘n vuurtjie gemaak het vir ‘n bietjie hitte. Hulle het die mans beveel om die vuur te blus en te verkas. Van die kinders het die ‘gewapende mans’ gesien en soos kinders maar is, wyd en syd vertel dat daar ‘boewe met gewere’ op die skoolperseel is – wat eintlik die sekuriteitsbeamptes was,” het Badenhorst gesê.
“Ek kan die publiek en ouers verseker dat daar geen gevaarlike insident by die skool was nie,” het hy afgesluit.
Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at roodepoortrecord@caxton.co.za (remember to include your contact details) or phone us on 011 955 1130.
For free daily local news on the West Rand, also visit our sister newspaper websites
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages to let your voice be heard!



