Die Paassangdiens wat op 30 Maart by Hoërskool Roodepoort plaasgevind het, is deur ‘n sombere atmosfeer gekenmerk.
Die personeel, leerders, ouers en beheerliggaamlede het almal in die saal bymekaar gekom om ook hulde te bring aan hul faktotum, André Janse van Rensburg, wat op 26 Maart oorlede is.
Die skoolkoor het die diens met sang begin, waarna Fanie le Roux van die NG Kerk Kloofendal die boodskap gebring het. “Alhoewel die boodskap op die komende Paastyd gefokus het, het dominee Fanie dit pragtig by die huldeblyk vir oom André laat aansluit, ” het Sandrie van Graan, die skool se skakelbeampte gesê.

André het op 1 Januarie 2007 by Hoërskool Roodepoort as faktotum begin werk en sy take met deernis, oorgawe en passie verrig. Hy was by almal bekend as oom André – die man met die blou broek, strepieshemp, grys hare en die bos sleutels. “Hy het altyd tyd gehad om almal met opgewondenheid, ‘n stewige handdruk en ‘n glimlag te groet,” het Sandrie vertel.
Hy was altyd eerste by die skool om oop te sluit en het laaste huis toe gegaan nadat hy seker gemaak het dat alles weer toegesluit is. Sy hande het vir niks verkeerd gestaan nie en hy het al sy take na die beste van sy vermoë gedoen, of dit nou was om die bankies reg te maak, die velde in stand te hou of om ‘n leerder te help om sy tas uit die klas (wat klaar gesluit was) te kry.

André sou op 8 Junie sy 63e verjaarsdag gevier het en word deur sy dogter en vrou oorleef. “André was ‘n gesinsman. Hy was verskriklik lief vir sy dogter en het altyd sy vrou gelei en versterk,” het Sandrie gesê.
Almal wat vir André geken het, of wie se paaie syne gekruis het, was dit eens – hy was ‘n man met ‘n hart van goud, ‘n staatmakerman, ‘n voorvatter en steunpilaar. “André het op die ritme van hierdie skool se hartklop gehardloop en sal altyd onthou word soos hy was. Hy was ‘n nutsman vir soveel meer as net die fisiese getimmer en kap van gereedskap,” het Johan van Jaarsveldt, die skoolhoof gesê.

Johan het vertel dat André meer as net ‘n faktotum was. “Hy het vir 10 jaar met ‘n glimlag en ongekende passie gewerk. Gedurende hierdie 10 jaar het hy hard gewerk – vir hierdie skool, hierdie plek, hierdie mense. Hy was ‘n goeie leier en sy span het perfek saamgewerk en meeste van die tyd het ons nie eers daarvan notisie geneem nie. Hy was een van die lojaalste mense wat jy ooit kon ontmoet,” het hy hartseer gesê.
Johan het die gedenkdiens met die volgende woorde afgesluit, “André, mag jy in vrede rus en vir altyd weet, ons – die Roodies – gaan jou vreeslik mis. Vaarwel, totsiens.”
Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at roodepoortrecord@caxton.co.za (remember to include your contact details) or phone us on 011 955 1130.
For free daily local news on the West Rand, also visit our sister newspaper websites
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages to let your voice be heard!




One Comment