Local newsNews

Verjaarsdagpartytjie met ‘n verskil

Oupa bederf hondekinders met verjaarsdagpartytjie

Alhoewel Cloe en Bambi hulle nie veel aan die woorde van Veels geluk liewe maatjie gesteur het nie, het die lekkernye by die verjaarsdagpartytjie definitief al hul aandag geniet.

Die 89-jarige Luther Ferreira het onlangs besluit om sy twee hondekinders op hul eerste verjaarsdag op ‘n spesiale manier te bederf. Sy kleindogter, Riekie Malan het vertel dat haar oupa al die afgelope drie jaar by haar ouers in Delarey woon. “Na my Ouma se dood in 2013 het oupa besluit hy wil nie alleen wees nie en het by my ma-hulle ingetrek. Hy het baie na ouma verlang en nie lank na haar dood nie, moes hy ‘n pasaangeër kry. Van daar af gaan alles klopdisselboom en dis net die ouderdom wat so nou en dan ‘n verkouetjie of gewrigpyn stuur,” het sy gesê.

Die Malan-gesin het verlede jaar twee honde weens tragiese gebeurtenisse verloor. Riekie het gesê dat haar pa toe besluit het om nie weer diere aan te hou nie. “My pa het gesê dat mens te geheg aan die honde raak en wanneer iets met hulle gebeur is dit nie lekker om alleen agter te bly nie,” het sy vertel.

Luther Ferreira (middel) saam met Cloe en Bambi.

Maar, Riekie se ma het ander planne gehad, en toe die geleentheid om weer hondjies te kry, hom voordoen, het sy dit met albei hande aangegryp. “‘n Kollega by my ma se werk het haar vertel van twee hondjies wat ‘n huis nodig het, omdat die eienaars gaan trek. Die hondjies was net vyf weke oud. My ma het vir my pa van die hondjies vertel en hy kon nie anders as om ja te sê nie,” het sy met ‘n groot glimlag vertel.

So is die hondjies toe na die Malan-huis geneem. Die twee is in die huis grootgemaak en het sommer gou-gou vir Luther as hul metgesel aangeneem. “Omdat oupa die heeldag saam met Cloe en Bambi by die huis is, het hulle baie geheg aan mekaar geraak. Hulle is oupa se geselskap en sal op sy skoot sit en mooi na hom luister. En elke week lees hulle die Record van voor tot agter deur,” het Riekie gesê.

Die twee se eerste verjaarsdag is op 31 Maart en Luther het besluit dat hy ‘n verjaarsdagpartytjie vir sy agterkleinkinders – soos hy hulle noem – wil hou. “Hy het vir my ouers geld gegee met die opdrag om al die nodige verversings vir die braai te koop en die hele familie uit te nooi om die partytjie by te woon,” het Riekie vertel.

Volgens Riekie het Cloe, Bambi en oupa Luther die dag terdeë geniet en was dit vir hulle heerlik om die geleentheid saam met die hele familie te kon vier.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes

Randfontein Herald

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button