60 jaar van genade vir NG Kerk Witpoortjie
Lidmate word uitgenooi om aan feesvieringe deel te neem
Die Nederduitse Gereformeerde (NG) Kerk Witpoortjie vier hierdie jaar hul 60ste bestaansjaar en beplan ‘n feesnaweek om dié groot mylpaal te herdenk.
Die kerk, op die hoek van Corlettlaan en Jan van Rooyenstraat in Witpoortjie, is na ‘n gemeentevergadering wat op 11 April 1957 gehou is, gestig. Die gemeente se eerste erediens was op 14 April 1957.
Lees ook: Nadine blom by NG Kerk Witpoortjie
“Ons wil graag alle lidmate – vorige en huidige – na ons feesnaweek uitnooi. Die vieringe sal gedurende Paasnaweek plaasvind, aangesien die herdenking van ons eerste erediens op 14 April is, wat ook Goeie Vrydag is,” het doktor Japie Steyn, die leraar gesê.
Die feesvieringe begin op 14 April met ‘n nagmaaldiens om 8vm. “Dié diens sal deur die gemeente se vorige leraar, doktor Arnold Smith gelei word en gemeentelede sal na die diens met verversings bedien word,” het Japie gesê.
‘n Dank- en feesdiens – wat deur Japie gelei sal word – word vir 16 April beplan. “Die gemeente se vorige leraars en hul eggenotes sal hierdie geleentheid bywoon. Die diens begin om 10.30vm waarna daar ‘n heerlike feesete in die kerksaal aangebied word sodat almal heerlik kan saamkuier en met dankbaarheid aan 60 jaar van genade kan terugdink,” het hy gesê.
Etekaartjies is beskikbaar teen R100 per persoon. “Ons wil graag alle lidmate na die feesvieringe uitnooi, asook vorige lidmate van die Witpoortjie gemeente wat uit die Mindalore-, Wilgespruit- en Culembeeck-gemeentes gegroei het,” het Japie gesê.
Vir meer inligting, kontak die kerkkantoor (Dinsdae tot Vrydae tussen 9.30vm en 12.30nm) by 011 955 3014.
Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at roodepoortrecord@caxton.co.za (remember to include your contact details) or phone us on 011 955 1130.
For free daily local news on the West Rand, also visit our sister newspaper websites
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages to let your voice be heard!




One Comment