Die kinders by Kruiner Kleuters is onlangs met ‘n besoek van die Suid-Afrikaanse Polisiediens bederf.
Die Maatskaplike Misdaadvoorkomingseenheid het die kleuterskool besoek om met die kinders oor veiligheid en sekuriteit te gesels. “Ons het met die kleuters oor polisiebeamptes se pligte gesels en aan hulle verduidelik dat hulle nie vir die polisie bang moet wees nie,” het konstabel Shumikazi Mbuli gesê.
Volgens Elmarike de Bruin, die hoof by Kruiner Kleuters, was die polisie se besoek ‘n instappie wat vir die kleuters gereël is. “Dit is nie meer so maklik of veilig om kleuters op uitstappies te neem nie, daarom reël ons instappies waartydens ‘n organisasie ons by die skool kom besoek om die kinders blootstelling aan dinge buite die kleuterskool te gee,” het sy gesê.
Die polisiebeamptes het vir die kleuters verduidelik hoe om ‘n gemerkte polisievoertuig, asook ‘n polisie-uniform uit te ken, sodat hulle nie vir die polisie sal skrik nie en ook veilig kan voel. “Die polisie wil graag hê die kinders moet met vrymoedigheid na ‘n polisiebeampte of -voertuig kan gaan,” het Elmarike gesê. Die kinders is ook geleer dat daar skelms is wat voorgee om polisiebeamptes te wees en in ongemerkte voertuie ry, maar dat daardie persone baie gevaarlik kan wees.
Die kleuters het ook geleer wat die polisie se noodnommer is en wat om te sê wanneer hulle hierdie nommer skakel. “Konstabel Mbuli het saam met die kinders geoefen om oor die foon te sê, ‘Daar is gevaar, ek is ‘n kind!’. Sy het hulle ook gemotiveer om so gou as moontlik hulle ouers se selfoonnommers en adres te leer,” het Elmarike vertel.
Maar vir die kleuters was die hoogtepunt van die dag definitief die polisievoertuie. “Die groot bederf was om die verskillende sirenes te kon hoor!” het Elmarike met ‘n glimlag afgesluit.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald, Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!




One Comment