Die Florries se skoolsaal het soos ‘n toneel uit die sestigs gelyk met al die blomme, groot hare, klokbroeke en sonbrille.
Hoërskool Florida se leerders en onderwysers het in hul massas opgedaag om aan die jaarlikse geesvang by die skool deel te neem. Dit het die aand voor die Interhoër plaasgevind, om te verseker dat almal die groot byeenkoms met ‘n positiewe ingesteldheid bywoon.

Die tema vir vanjaar was Flower Power en elkeen het in hul beste hippie-drag opgedaag om te verseker dat die aand ‘n groot sukses was.
Die leerders het die geleentheid gekry om hul sokkievernuf op die maat van die gaskunstenaar – Wolwedans – se musiek vir almal te wys. Die onderwysers het ook nie op hulle laat wag nie, en almal met hul spesiale item – wat hul sestigspassies uitgebeeld het – vermaak.

Na die verrigtinge in die saal is almal buite toe waar ‘n groot letter F aan die brand gesteek is. Volgens Morné Hanekom, die skakelbeampte van die skool, het ‘n gevoel van trots en liefde die leerders se harte gevul. “Hulle het spontaan begin saamsing en ‘n gevoel van opwinding en afwagting het in die lug gehang,” het hy gesê.
Die aand het gesorg dat elke Florrie vol gees en opgewondenheid vir die volgende dag se Interhoër huis toe is.
Kyk hier na die video van die geesvangaktiwiteite:
https://www.facebook.com/zane.snashall/videos/793882810760909/
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald, Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



