Uitstekende atletiekseisoen vir Bastion-atlete
Hoërskool Bastion eindig algeheel tweede by Interhoër
Hoërskool Bastion het gedurende die atletiekseisoen 24 top atlete, wat uitstekend by die onderskeie byeenkomste gevaar het, opgelewer.

Die atlete het onlangs aan ‘n byeenkoms by Hoërskool Bergsig in Rustenburg deelgeneem waar hulle met agt ander skole meegeding het. Uit 120 items het Hoërskool Bastion 60 podiumplekke verower en ‘n algehele derde plek behaal.
Die meisiesatleet van die dag was Ashley Shaw wat die 200 meter wedloop in 27,50 sekondes voltooi het. Die top seunsatleet was Neo van der Plank. Hy het ‘n afstand van 4,82 meter in die verspring behaal.

Na afloop van die byeenkoms is Jandré Venter as die week se top atleet aangewys, nadat hy meer as 700 punte behaal het.
Die jaarlikse Interhoër waartydens verskeie atlete van Wes-Randse skole meeding, het onlangs in Potchefstroom plaasgevind, en die skool se atlete het uitstekende prestasies behaal.
Bastion se atlete het 71 podiumplekke verower en kon aan die einde van die dag met ‘n algehele tweede plek spog. Die meisiespan het tweede geëindig en die seunspan derde.

“Bastion het ‘n ongelooflik suksesvolle atletiekseisoen beleef en bedank graag alle afrigters en organiseerders wat hulle so goed van hul taak gekwyt het,” het Monique Naudé, die skool se bemarkingsbeampte gesê.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald, Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



