“Die toernooi was vir my ‘n belewenis en ek het dit geniet, al het die weer nie altyd saamgespeel nie.”
So het die 13-jarige Carmen Nel vertel nadat sy deel was van die Gauteng A-meisieskrieketspan wat in KwaZulu-Natal aan die streektoernooi deelgeneem het. Volgens haar was sy nogal senuweeagtig oor die toernooi en het nie juis geweet wat om te verwag nie, aangesien daar baie ander meisies van ander provinsies ook deelgeneem het. “Die wedstryde was nogal moeilik, want jy ken nie die ander spelers se spelstyl nie,” het Carmen gesê.
Sy het vertel dat sy voor die eerste wedstryd vreeslik benoud was en dat dit vir haar baie stresvol was. “Jy het ‘n baie groot verantwoordelikheid om te bewys dat jy in die span hoort, en dit is al waaraan ek voor die eerste wedstryd kon dink. Dit was nie een van my bestes nie,” het sy met ‘n glimlag gesê.
Met haar tweede wedstryd van die toernooi het dit beter gegaan, en sy het haar eerste grenshou (‘n vier) van die toernooi geslaan. Sy was ook verantwoordelik vir die wenlopies. “Ek het nie so baie grenshoue tydens die toernooi geslaan nie, want die spelers het baie goed geboul. Maar elke grenshou – of dit nou jou eerste of honderdste een is – is spesiaal,” het Carmen gesê.
Die span het uit 13 meisies van verskillende skole bestaan, en die vraag moes net gevra word, “Het julle darem goed oor die weg gekom?” Carmen het met ‘n glimlag geantwoord dat hulle wel goed oor die weg gekom het en boonop goeie vriende geword het. Hul spangees was ook baie goed en hulle kon lekker as ‘n span saamwerk – al was daar partykeer ‘n paar misverstande. “Ek het baie nuwe vriende gemaak waarmee ek definitief kontak sal behou,” het sy gesê.
Carmen het gesê dat sy baie tevrede was met die manier waarop sy haar wedstryde gespeel het en is baie dankbaar vir haar afrigter en spanmaats. “Ek het baie nuwe goed geleer en ons afrigter en spanmaats het baie gehelp om my sterkpunte nog beter te maak en aan my swakker punte te werk,” het Carmen gesê.
Carmen het vertel hoe opgewonde en trots die span was om die toernooi te kon wen. “Dit was die eerste keer dat Gauteng al hul wedstryde gewen het,” het sy met ‘n groot glimlag vertel.
Carmen se ma, Lorna, het vertel dat sy super trots op haar dogter is. “Dit is so wonderlik om te kan sê dat Carmen my dogter is. Al wat ek kan sê, is dat dit ‘n onbeskryflike gevoel is,” het Lorna gesê.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald, Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



