Pietertjie sterk aan na operasie
Hy is op die herstelpad, maar sy rondloopdae is iets van die verlede
Alhoewel Pieter (Pietertjie) Erasmus besig is om goed aan te sterk na sy heupoperasie, sal hy nog vir ‘n geruime tyd nie in die omgewing te sien wees nie.
Hy is onlangs uit die Netcare Krugersdorp Hospitaal ontslaan nadat hy ‘n operasie aan sy heup ondergaan het. Hy is tans by die huis waar sy suster, Meisie Stander vir hom sorg.
Pieter hoop om binnekort in ‘n rehabiltasiesentrum opgeneem te word waar hy hulp sal ontvang om weer te leer loop, aangesien die besering aan sy heup ekstensief was. Hulle wag net vir die mediese fonds se goedkeuring.
“Ek wil net vir almal wat navraag doen oor Pietertjie, baie dankie sê vir julle omgee en belangstelling. Hy is nog nie honderd persent gesond nie, maar is op die herstelpad. Ek wil ook van die geleentheid gebruik maak om alle gerugte wat die rondte oor hom doen, in die kiem te smoor. Hy het die operasie oorleef.
Hy word nie in die omgewing gesien nie, want hy kan net ‘n paar tree met die loopraam loop,” het Meisie gesê.
Pieter het onlangs ‘n nare ervaring by Idols gehad toe hy in die parkeerarea aan ‘n stukkie brood verstik het. Van die mense wat buite was, het gesien daar is fout en ‘n man het nader gehardloop en die brood uit sy keel gekry. Pieter het toe stuiptrekkings begin kry en in die proses sy knie erg beseer en sy heup gebreek.
Pieter is dadelik in die Netcare Krugersdorp Privaat Hospitaal opgeneem. Die dokter het vir hulle gesê ‘n operasie sou dadelik gedoen moes word, anders sou die heup nie herstel nie. “Dit was vir my ‘n baie moeilike besluit want Pieter het ‘n hartprobleem en is allergies vir narkose. Die operasie kon lewensgevaarlik vir hom wees,” het Meisie gesê.
Meisie sorg al 22 jaar vir Pieter, wat op 13-jarige ouderdom breinskade in ‘n ongeluk opgedoen het. Hy het ook ‘n voetgebrek. “Ek weet nie wat ek sal doen as hy iets moet oorkom nie,” het sy gesê.
“Pieter sal dalk nooit weer sonder ‘n loopraam kan loop nie, wat beteken hy sal nie meer so baie in die omgewing gesien word nie. Dit lyk of sy rondloopdae nou verby is, ” het Meisie gesê.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald, Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



