Omega – waar die spanning begin
Omega handel oor Kobus Venter, 'n Suid-Afrikaanse universiteitsprofessor, wat 'n kongres in Washington oor alternatiewe energiebronne toespreek.
Oudjoernalis en voormalige streeksredakteur en redaksiebestuurder van The Citizen, Theo Eybers het onlangs sy boek Omega vrygestel.
Omega handel oor Kobus Venter, ‘n Suid-Afrikaanse universiteitsprofessor, wat ‘n kongres in Washington oor alternatiewe energiebronne toespreek, min wetende dat die Amerikaanse CIA en die Iranese intelligensiediens, MOIS op sy spoor is. Hul belangstelling in hom spruit uit die geheime ontwikkelingswerk wat hy doen om ‘n alternatief vir petrol en diesel te vind.
Op pad na Amerika ontmoet hy ‘n vreemde man wat sterk onder verdenking by die CIA is en dan soos mis voor die môreson verdwyn. Maar Kobus se eintlike vyand is die Illuminati, ‘n geldmagorganisasie wat die wêreld wil oorheers.
Hoewel hy net vyf maande aan die spanningsverhaal geskryf het, het dit Theo ‘n jaar geneem om die boek gepubliseer te kry. “Ek het met ‘n tema in my kop rondgeloop. Daar was ‘n begin en ‘n einde – die res het in plek geval soos die storie verloop,” het Theo vertel. “Ek het eers die raamwerk van die storie beplan, maar dit het nie so lekker gewerk nie.”
Theo het gesê hy het navorsing op die internet gedoen en verskeie webblaaie geraadpleeg. Hoewel dit fiksie is, het hy gesê, is daar heelwat feite in. “Die res is so ‘n bietjie duimsuig.
“Daar word beweer dat die Illuminati duiwelaanbidders is. Dit pas in die storie in. Die boek gaan juis oor goed en kwaad, en natuurlik is die Illuminati die kwaad.”
Theo het verduidelik dat daar ook ‘n geestelike boodskap in die apokaliptiese storie is. Sy vrou Marietjie het gesê sy is heeltyd op hoogte van die storielyn gehou. “Ek het dit geniet as hy skryf. Hopelik spring hy vinnig aan die werk met sy volgende boek,” het Marietjie gesê.
Theo is nie net ‘n oudjoernalis nie, maar was ook ‘n maatskaplike werker wat in Pretoria gebore en getoë is. Hy was later redakteur en bestuurder van verskeie tuiskoerante aan die Oos- en Wes-Rand en in Johannesburg. Hy doen tans vryskutwerk by The Citizen.
Omega is by publishingworldsa.com beskikbaar en kos R179.
Die Record het ‘n getekende eksemplaar wat deur ‘n gelukkige leser gewen kan word. Beantwoord die vraag: Wat is die naam van die boek wat Theo Eybers so pas vrygestel het? Stuur jou naam, kontakbesonderhede en die antwoord na roelienv@caxton.co.za voor 29 November.
Die gelukkige wenner sal gekontak word.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald, Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



