Caxton se grootbaas se speke gaan sing by wedren
"Ek het saam met 'n vriend begin ry en die gogga het my gebyt"
Die Wes-Rand is ‘n uitstekende plek om fietsry te beoefen aangesien daar bulte is wat ‘n redelike uitdaging bied.
So het die Besturende Direkteur van Caxton Plaaslike Media en Coldset Drukkery, Jaco Koekemoer vertel.
Hy en sy vrou, Lizane, is al nege jaar getroud en hulle het twee kinders.
Hoewel die 36-jarige nie veel tyd kry om te oefen nie, gaan hy wel volgende naweek die 947 Fietswedren aandurf.
Jaco het vertel dat sy dag om 6.30vm begin. “Ek gee ons twee kinders Christaan, 5, en Rupert, 2, ontbyt en is teen 8vm op kantoor waar ek my eerste espresso geniet om krag vir die dag te kry. Daarna begin die oproepe, vergaderings, beplanning en algemene bestuurskwessies. Ek is tans in beheer van 10 fabrieke, 12 Get It-tydskrifte en hou toesig oor 81 webblaaie. Daar is wel bestuurders in plek om oor alles toesig te hou, maar ons ruil gereeld idees uit,” het Jaco verduidelik.
In die aand knyp hy ‘n tydjie af om minstens 750m-opdraande-oefening te kry en as hy kans kry, oefen hy naweke ook.
Hy gaan vanjaar vir die 11de keer aan die fietwedren deelneem.
“Ek het saam met ‘n vriend begin ry en die gogga het my gebyt,” het hy gesê.
“Ek is nie ‘n professionele ryer nie en geniet dit eerder as ontspanning. Die dag is heerlik ontspannend. Daar heers ‘n ongelooflik lekker atmosfeer en almal ondersteun mekaar. Dis ‘n mooi tyd van die jaar om te oefen en aan kompetisies deel te neem.”
Net voor die wedren gaan Jaco genoeg koolhidrate inneem om hom deur die ren te help en hy gaan natuurlik tydens die wedren genoeg vloeistowwe inneem. Ten spyte van al die voorbereiding praat hy met entoesiasme oor van die spesifieke sport. “Hoewel dit aanvanklik duur is om die regte uitrusting en fiets aan te skaf, is dit goeie oefening. Ek het reeds geleer om minder aggressief op die pad te wees,” het hy laggend gesê. “Dit is een van die gewildste sportsoorte en belangstelling daarin groei jaarliks.”
Jaco het gesê hy is ‘n Cheetah-ondersteuner maar sal vir die Leeus ook skree as hy moet. Verder geniet hy ‘n goeie biefstuk en rooiwyn of whiskey, en sy gunsteling fliek is Legends of the Fall. Hy en sy gesin verkies die see, veral Umhlanga bo die bosveld.
“My gesin is en bly my eerste prioriteit,” het Jaco beklemtoon.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald, Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



