Editor's choiceLocal newsNews

Skone Roodepoorter staan vir wat reg is

Roodepoort -inwoner gekroon as Miss Justice SA 2016

“Ai, mens voel trots as jou kleinkinders so ‘n groot prestasie behaal,” het Dawie Pieterse, Henriëtte Noortman se oupa gesê oor haar onlangse kroning as Miss Justice SA 2016. Dié skoonheidskompetisie het hierdie jaar vir die eerste keer plaasgevind.

Henriëtte, ‘n inwoner van Roodepoort, is nog heel sprakeloos oor haar titel. “Ek is baie verbaas dat ek gewen het, en dit voel nog baie onwerklik,” het sy laggend vertel.

Justice Pageants het ‘n jaar gelede, in samewerking met die No Crime Culture Project, die pad begin stap om misdaad deur aktiewe morele leierskap uit te wis. Hul hoofdoel is om misdaad te bekamp, maar dit is nie al nie. Hulle sê ook onregverdigheid en immoraliteit die stryd aan. So word rolmodelle gevorm – nie net vir kinders nie, maar ook vir die gemeenskap.

Deelnemers aan die kompetisie moes van Maart tot September vanjaar skole besoek en take voltooi. Hul eie morele outoriteit is ook getoets. Hulle het uiteindelik 130 skole besoek waar die No Crime Culture Project-programme vir die leerders aangebied is.

Meer as 100 000 leerders was by die projek betrokke. Die besoeke het ‘n kompetisie ingesluit, waarvoor leerders ‘n taak wat aan ‘n morele waarde gekoppel is, moes voltooi. Die wenskool het die gaste by die gala-aand vermaak met die liedjie wat hulle geskryf het.

Die hoogtepunt van die gala-aand was ‘n debatsessie waartydens deelnemers elkeen ‘n beurt gekry het om hulle opinie te gee oor onderwerpe soos morele onderrig, godsdiens en moraliteit, asook misdaad en moraliteit. Hulle is ook volgens verskeie ander kriteria geëvalueer.

Henriëtte se toespraak het gefokus op die groot behoefte aan morele onderrig in Suid-Afrika. “As ‘n gemeenskap moet ons begin om op die jeug te fokus, spesifiek dié in laerskole,” het sy gesê.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button