Local newsNews

Vir Shaleen gaan dit oor mense

Ek smaak myself stukkend

Sy is ‘n hele 25kg ligter, maar Shaleen Surtie-Richards is nog net so vurig en uitgesproke soos altyd.

“Ek het niks om weg te steek nie. Ek is eerlik maar ook ‘n ongelooflik realistiese mens. God het my talente gegee en ek het dit nie gaan begrawe nie. As kind het ek altyd geglo talent is ‘n boom, weet jy? Omdat die Bybel jy moet nie jou talente gaan begrawe nie,” het Shaleen vertel.

Die ‘vinnige’ onderhoud met Shaleen het twee uur geduur en die meeste van die tyd het ons geskater vir haar kwinkslae. Shaleen het ‘n ongelooflike humorsin en haar geesdrif vir die lewe is aansteeklik. Tog kan sy ook ernstig raak en met passie praat oor die dinge wat haar die naaste aan die hart lê. Een daarvan is om haar Ambassadeurskap vir Menseregte baie ernstig op te neem. “Ek was onlang in Tzaneen waar ek met die vroue gaan praat het. Ek berei nooit ‘n toespraak voor vir sulke geleenthede nie want ek praat uit ‘n vrou se perspektief, uit my hart en met liefde. Ek is nie net ‘n aktrise nie, maar ‘n mens mens,” het sy gesê.

“Kyk hoe begin ek nou Engels praat, dan moet jy weet ek is ernstig né?” Sy het verduidelik dat sy vir die vroue gesê het hoewel ‘n man lobola betaal, die vrou nie een van sy beeste is wat hy besit nie. “Die man moet jou respekteer ook.” Shaleen het vertel hoe sy ou handsakke met allerhande vrouebenodighede volgemaak en aan die hawelose vroue gegee het. “Ek dink nie ek is ‘n aktivis vir vroueregte nie, maar ek vertrou my oordeel. Mishandeling van kinders lê my ook na aan die hart en my motto is ‘red een kind en red ‘n nasie’.

“Hoe lank kan ‘n mens op die kantlyn staan en sê by the Grace of God? Ek kom uit ‘n liefdevolle huis en ek het soveel liefde om te gee. Dit maak nie saak wat jou velkleur is nie, ek wil by die ergste gevalle van mishandeling probeer uitkom. Soms kan ‘n drukkie wondere verrig.”

Kykers het Shaleen as Fiela in Fiela se Kind leer ken. Sy was ook al bekend as Shirley en Matty maar kykers sal haar altyd as Nenna in Egoli onthou.

“Ek probeer my karakter so eerlik as moontlik interpreteer en ek het soveel passie vir my werk. Hoewel ek geen opleiding het nie, het ek reeds 52 toekennings ontvang,” het Shaleen gesê en verduidelik dat sy op 9 April die Inspirations Awards gaan ontvang vir haar jarelange toewyding.

“Ek het hard gewerk om status in die bedryf te kry. You have a responsibility towards the community, you know?”

Shaleen was verlede maand die seremoniemeester by die jaarlikse Caxton-toekennings en sy het die aand met een woord beskryf, “Fabulous! Ek het die aand vreeslik geniet en sal jy glo, na 30 jaar kry ek nog vlinders as ek op die verhoog moet verskyn.”

Sy het nie net baie gewig afgeskud nie, maar daar is deesdae ook ‘n sprankel in haar oë. “Ek gaan nie al my geheime uitlap nie!” het sy ondeund gegiggel. “Ek is baie gesteld op my privaatheid. Ten spyte daarvan dat werk skaars is, is ek baie gelukkig.”

Sy het geen tekort aan selfvertroue nie en spog met trots met haar veel kleiner broeke. “Ek smaak myself stukkend.”

Sy skryf haar sukses aan haar ouers toe. “Mamma en pappa was die wonderlikste ouers wat ‘n kind ooit kon hê. Hulle het my onder andere geleer dat jou ras nie noodwendig jou klas is nie.”

Die geselsie het te vinnig verby gegaan, maar hopelik sal Shaleen in die toekoms weer tyd aan die Record kan afstaan.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Roodepoort Record as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button