
‘n Enkelouer, Cecile Joubert, van Hoërskool Bastion sit met haar hande in haar hare nadat die skool weier om aan haar seun handboeke te verskaf aldus sy nie die registrasie fooi betaal nie.
Volgens Joubert vra die skool ‘n R1800 registrasie fooi wat tans net nie vir haar haalbaar is nie. Die skool is reeds etlike weke aan die gang en die toetsreeks lê voor maar haar graad nege seun is steeds handboekloos.
Sy het reeds die skool genader om ‘n alternatiewe reëling te tref en die R1800 af te betaal maar die skool het aan haar gesê die bestuursligaam moet besluit en indien hulle instem moet sy onmiddelik ‘n skulderkenningsbrief onderteken. Sou sy dan een maand in gebreke bly om te betaal sal die skool regstappe neem en sal sy die kostes daarvan moet dra. Intussen moet sy handboeke afrol.
Sy sê ook dat nadat sy met ‘n beampte van die Gauteng Onderwys Departement (GDO) gepraat het wat aan haar gesê het die skool nie mag weier om handboeke te verskaf nie, ‘n werknemer van die skool vir haar gesê het “die departement lieg vir die ouers”.
Volgens Joubert is haar geval nie geisoleerd nie en is daar ook ‘n ander seun in haar seun se klas wat dié lot beval het. Sy sê sy is bewus van een van haar kollegas wie se seun as gevolg van dieselfde rede verlede jaar tot Augustus sonder handboeke moes klaar kom.
Volgens Phumla Sekonyane, die woordvoerder van die GDO mag ‘n skool nie weier om ‘n leerling handboeke te verskaf nie en moet hulle ‘n reëling met die ouer maak. Sy sê dat indien hulle dit nie doen nie die GDO dit beskou as weiering om onderwys aan ‘n kind te verskaf wat ‘n skending van die grondwet is.
Melitta Geyser, woordvoerder vir die skool, sê dat daar dalk ‘n misverstand kan wees aangesien die bestuursligaam slegs moet goedkeuring gee waaneer daar vir vrystelling van skoolfonds aansoek gedoen word. In die geval van handboeke moet die ouer slegs ‘n vorm invul en met die skool ‘n reëling maak en die skoolboeke sal dadelik oorhandig word. Sy het ook gesê dat die skool baie geneë is om die ouers te gemoet te kom.



