LettersOpinion

Noem my David Dewes

In antwoord op Gert van Forida-meer se brief Hou op droom en werk liewer: Gert, as dit jou regte naam is, moenie bang wees om te sê wie ek is nie. Noem my David Dewes sodat die lesers weet van wie jy skryf. Reidstraat is al drie maal skoongemaak en ek het persoonlik gesorg dat …

In antwoord op Gert van Forida-meer se brief Hou op droom en werk liewer:

Gert, as dit jou regte naam is, moenie bang wees om te sê wie ek is nie. Noem my David Dewes sodat die lesers weet van wie jy skryf.

Reidstraat is al drie maal skoongemaak en ek het persoonlik gesorg dat hulle grond langs die pad stoot om te keer dat mense vullis daar afgooi. Help my om fondse in te samel om ‘n verstelbare videokamera te koop, sodat ons die oortreders kan vastrek. ‘n Ander oplossing is dat ek en jy dag en nag daar gaan staan om te sien wie die oortreders is, want die stadsraad sal nie bereid wees om ons finansieel te help nie.

Wat bome in ons strate betref, is daar net ses kettingsaagoperateurs in Streek C om effektiewe diens te lewer – ‘n gebied wat strek van Doornkop in die suide tot Olivedale in die noorde. Streek C het hopeloos te min werkers, toerusting en voertuie om al die bome in stand te hou; ons praat nie eers daarvan om stompe, takke en blare te verwyder nie. André Laubscher, een van Johannesburg se min bekwame amptenare, is hiervoor verantwoordelik en hy doen alles in sy vermoë om hierdie patetiese situasie te bestuur.

Kom ons praat oor Florida-meer. Wys my een munisipale park in die hele Suid-Afrika waar die ANC in beheer is, wat lyk soos Florida-meer in die “ou dae” gelyk het. Ek het al 30 jaar gelede die ampterany gewaarsku dat parke so groot soos Florida-meer nooit, ooit in dieselfde toestand sal voortbestaan nie, omdat dit te veel gaan kos om dit met die belastingbetaler se geld in stand te hou, veral as party mense nie eers lopende water het nie.

Doen my ‘n guns, Gert. Besoek die Nasionale Botaniese Tuin in Poortview en kyk self hoe word ‘n eerstewêreldse park in stand gehou. Let op, daar is nie een vullisblik in die hele park nie. Die tuin word in so ‘n puik toestand gehou, dat mense te skaam is om rommel agter te laat. Die instandhouding word met bykomstige fondse van toegangsgelde, ‘n klein restaurantjie, die amfiteater waar daar vertonings aangebied word en die konferensiefasiliteite gedoen. Dit is presies wat ek by Florida-meer wil sien. Dis klaar nie meer net ‘n droom nie. ‘n Private maatskappy wat nou eiendom langs Fleurhof ontwikkel, het R250 000 spandeer en konsultante aangestel om ‘n studie te doen oor die impak op die omgewing en om ‘n voorlegging voor te berei. Die park gaan groter as Central Park in New York wees wanneer dit klaar is. Dit strek van Len Rutterpark tot by Fleurhofdam en dan al langs die spruit af tot in Soweto. Daar sal videokameras wees om misdaad te bekamp. Beheer sal so goed wees dat jy vir 21km sal kan fietsry, draf of net stap en die natuur in veilige omstandighede bewonder. Die Raad is baie opgewonde hieroor, want dit is nou ‘n private inisiatief en kom nie van ‘n DA-politikus af nie.

‘n Laaste guns, asseblief Gert. Google www.onflorida.org.za. Daar kan jy sien hoe gewone mense besluit het om

op te hou kla en hulle kosbare tyd gebruik om ‘n verskil te maak – dinamiese mense wat ‘n gemeenskapbuurt geskep

het. Hulle werk aktief aan my sogenaamde “droom” en bereik dinge wat ek nooit alleen sou kon regkry nie.

Ek sal nooit ophou droom nie. Met die hulp van die gemeenskap sal ons tot mense wat nie vir die DA stem nie, wys

wat gedoen kan word as almal saamstaan. Gert, as jy of enige leser wil ophou kla, stuur gerus vir my ‘n e-pos by pa.davedewes@gmail.com en dan sal ek julle kan bewus maak van die ongelooflike potensiaal in Florida.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button