Local newsNews

Is die AWB nog relevant?

Die hoofleier van die AWB praat met die record.

Met die hoofleier van die Afrikaner Weerstandsbeweging (AWB), Steyn van Rönge se onlangse besoek aan Roodepoort is die record genooi vir ‘n onderhoud.

Van Rönge is ‘n groot, imposante man wat keurige berekende Afrikaans praat.

Op die vraag wat die AWB se ledetal is het hy geantwoord dat dit in die ‘duisende der tienduisende’ is maar dat hy weens sekuriteitsredes dit nie bekend kan maak nie.

Van Rönge het verduidelik dat die AWB homself as ‘n paramilitêre vêrregse organisasie beskou wat die belange en veiligheid van blanke mense wat die organisasie se ideologie goedgesind is, op die hart dra. “Natuurlik kom ons eie lede eerste,” het hy gesê.

Hy verduidelik dan dat ‘ons mense’ dié is wat Afrikanernasionalisme, liefde vir eie kultuur en taal en Christelike normes en waardes nastreef.

Het die AWB nog aspirasies vir ‘n volkstaat?
“Definitief. Ons (die Boere Afrikaner Volksraad (BAV)) moes die regering dagvaar om met hulle in gesprek te tree oor selfbeskikking. Sou ons misluk sal ons ons tot die Verenigde Volke Organisasie (VVO) wend en tot die Internasionale Hof in Den Haag aangesien internasionale reg selfbeskikking van volke waarborg. Die grondgebied van so ‘n volkstaat is egter nog nie ter sprake nie,” het Van Rönge gesê. Hy het bygevoeg dat die ‘volk’ tans onder vreemde heerskappy is ‘aangesien die ANC, SAKP en Cosatu nie ‘n volk is nie’.

Hy het ook breedvoerig verduidelik dat daar ander inheemse volke soos die Khozas is wat graag hulle eie grondgebied wil hê en dat die AWB enige ander inheemse volk wat die strewe het se saak sal ondersteun. Verder het hy gesê dat die AWB glad nie ander volke uit die land wil verdryf nie maar dat hulle slegs oor hulself wil regeer.

“Baie blankes het ‘n begeerte en behoefte om hulself te regeer en wil nie deel van die Reënboognasie wees nie. Ons wil nie verbaster en oor die kleurgrens trou nie. Ek sê dit met groot respek. Die blanke of Ariër se waardes en kultuur kan nie met die van dié nie-blanke s’n vereenselwig word nie,” het Van Rönge gesê.

Hy ontken ook heftig dat die AWB ‘n fascistiese neo-naziorganisasie is ten spyte van simboliek in hulle kenteken wat baie aan dié van die nazi’s herinner.

“Ons is glad nie neo-nazis nie. Hulle het ‘n hakekruis waar ons drie sewes in ons kenteken het. Dit is om te wys ons staan lynreg teen die 666 van die anti-Christ,” het hy gesê.

Volgens Van Rönge is dit jammer dat daar soveel splinterorganisasies binne die regse groepering is maar dat die BAV, wat as sambreel vir meeste van die regse organisasies dien, tog ‘n stap in die regte rigting is om ‘die Afrikaner uit een mond te laat praat’. Hy het gesê dat dit belangrik is dat daar ook uiteindelik net een leier moet wees.

Hy het verder verduidelik dat die beweging in 1973 gestig is om weerstand te bied teen die oorgawe aan kommunisme en dat dit die rede is hoekom hulle die enigste organisasie in 1994 was wat oorgegaan het tot bomplantings en ander dade van anargie.

“Natuurlik het ons daardie stryd verloor en vir ‘n ruk het die AWB getaan maar met die afsterwe van ons leier Eugéne Terre’blanche in 2010 het daar weer ‘n natuurlike oplewing gekom,” sê hy. Hy voeg trots by dat daar meer roubeklaers, ongeveer 30 000, by Terreblanche se begrafnis was as by die van voormalige eerste minister HF Verwoerd.

Volgens Van Rönge ‘bevind die Afrikaner hom in die huidige krisis omdat hy van bybelse beginsels afgedwaal het en homoseksualiteit en die verbastering met ander volke aanvaar’. “Ek glo dat as die volk sal terugkeer na God en homself verootmoedig en sy sondes erken die Vader weer ‘n wonderwerk sal kan doen soos Hy vir die Israeliete gedoen het toe Hy hulle uit Egipte bevry het,” het Van Rönge gesê.

Hy ook gesê dat die beweging se planne in plek is om sy mense te beskerm wanneer die onvoorkombare chaos en anargie uitbreek. Die anargie sal aldus hom plaasvind wanneer die werklose jeug in opstand kom teen die al hoe groter wordende gebrek aan dienslewering.

Van Rönge het ook gewaarsku dat wanneer ‘chaos uitbreek, dit nie tussen wit en swart sal wees nie maar dat die vyand dan die liberale joernaliste, die Broederbond en die geldmagte sal wees wat nie besef hoe groot aandeel hulle het in die krisis waarin ons ons vandag bevind nie’.

Die laaste maar verskanste vraag, ontvang ‘n verskantste antwoord – Wat as die AWB al die korrekte kanale gevolg het en steeds onsuksesvol is om ‘n volkstaat te bekom?

“Dan sal ons teruggaan na die volk toe en hulle vra wat hulle wil hê. Kom ek stel dit so. As ek jou fiets by jou afvat en jy vra hom terug maar ek weier, en jy voel jy sien kans vir my, wat gaan jy dan doen?”

* Die Caxton groep, die record en die joernalis deel nie noodwendig die sentimente wat in hierdie artikel uitgespreek is nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button