Latest SportSport
Half miljoen vir Davidsonville tennisbane
Toernooi in die pyplyn vir die nuwe jaar.
Die Davidsonvillegemeenskap het ‘n hupstootjie gekry nadat die tennisbane teen R500 000 opgradeer is.
Die projek wat binne ‘n maand afgehandel is het die oordoen van die bane en die strepe, nuwe nette, ‘n oefen-muur, herstel van die heinings asook splinternuwe spreiligte ingesluit. Verder is die klubhuis en aantrekkamers oorgedoen en die tuin heruitgelê.
Tans is die kontrakteur ook besig om bankies vir toeskouers aan te bring.
Die stad se kontrakteur aan hoof van die projek, Tebogo Mulusi sê ook dat hy tydens die projek 16 plaaslike arbeiders aangestel het wat beteken dat 16 families voordeel uit die projek getrek het.
Die DA raadslid vir die area, Gert Niemand sê dat die projek se hoofdoel is om kinders by sport betrokke te kry en weg te hou van dwelms en die strate.
Die spog tennisgeriewe sal aan die einde van Januarie 2015 in samewerking met Tennis Suid-Afrika in die vorm van ‘n toernooi wat op die jeug sal konsentreer ingewy word.
Vir meer inligting oor die tennisklub of om by borgskap van die toernooi betrokke te raak, kan Charles Visser gekontak word op 084 317 3897.



