Local newsNews

Laerskool Helderkruin se troebel toilette

Meer as een ouer kla dat Laerskool Helderkruin se toiletgeriewe nie so spoggerig soos die res van die skool is nie. ‘n Ouer, wat anoniem wil bly aangesien sy vrees dat haar kind geviktimiseer sal word, het ook foto’s aan die record gestuur met die vraag of sulke toestande aanvaarbaar is. Volgens haar is die …

Meer as een ouer kla dat Laerskool Helderkruin se toiletgeriewe nie so spoggerig soos die res van die skool is nie.

‘n Ouer, wat anoniem wil bly aangesien sy vrees dat haar kind geviktimiseer sal word, het ook foto’s aan die record gestuur met die vraag of sulke toestande aanvaarbaar is. Volgens haar is die toiletgeriewe al die afgelope sewe jaar wat haar kind in die skool is, ‘n probleem. Sy beweer die toilette is gereeld vuil, dat daar nie toiletpapier en handdoeke in die badkamers is nie en dat van die toilette en wasbakke verwaarloos is. Wat haar grief is dat die skool die afgelope jaar duisende rande gespandeer het aan die aanbou van nuwe kantore, die ontvangsarea opgegradeer het en ‘n nuwe personeelkamer nader aan die sportvelde gebou het. Daar is ook ‘n duur nuwe elektroniese telbord aangebring maar sy voel die skool kon van die geld op die toiletgeriewe gespandeer het. ‘n Ander ouer sê dat haar dogtertjie sommige dae “die heeldag knyp aangesien sy nie die badkamer in so ‘n toestand wil gebruik nie”.

Die skool se woordvoerder, Isobel Mitchley plaas die blaam egter op die leerlinge.

“Die ouers wat kla moet weet dit is hulle kinders wat die badkamers vandaliseer en bevuil. Dit is ‘n teer sakie waaraan ons heeltyd moet aandag gee,” sê Mitchley.

“Vier jaar gelede het ons die badkamers oorgedoen. Daar is twee werkers wat permanent toegewys is slegs om die badkamers skoon te hou. Die kinders breek egter goed soos krane af – hoe weet ek nie.

“Mense sal geskok wees as hulle weet wat ons al uit die pype moes haal. Broeke, hemde en kouse; hulle druk tot handboeke in die toilette,” sê Mitchley. Sy erken dat hulle toiletpapier uit die badkamers moes haal en dat hulle nie handdoeke daar durf laat nie. Die toiletpapier word nou in die klaskamers gehou asook ontsmetlappies vir dié wat hulle hande wil was.

“Ons hou ons nie doof vir ouers se klagtes nie maar ouers moet weet dat daar twee kante aan ‘n saak is. Hulle kinders is dalk opgevoed maar daar is ander kinders wat nie opgevoed is nie,” sê Mitchley. Sy sê die probleem het so groot geword dat die volgende stap gaan wees dat kringtelevisiekameras buite die badkamers geplaas gaan word sodat die belhamels vasgevat kan word.

Die adjunkhoof, Riaan van der Watt vertel ook dat die skool ‘n verlore stryd voer ten spyte van hulle pogings om die toiletgeriewe die beste te maak. Ook hy sê ouers moet weet dit is hulle kinders wat die skade aanrig.

Hy beaam dat die skool vier jaar gelede die badkamers oorgedoen het maar sê dat hulle elke kwartaal toilette, handdoekrelings en ander geriewe soos vloeiseephouers moet vervang. Hy sê behalwe vir die twee toegewese skoonmakers gedurende skoolure is daar een toegewese skoonmaker in die middag vir die naskoolsentrum se kinders.

“Jy gaan vuil toilette en ander probleme hê waar 1 025 kinders daagliks die toilette gebruik. Ek kan die ouers verseker dat toiletgeriewe by alle skole ‘n probleem is,” sê Van der Watt. “Die Graad R-leerlinge se badkamers is beter as myne by die huis. Hulle s’n het tot granietblaaie.”

Van der Watt het die record genooi om enige tyd ‘n verrassingsbesoek af te lê en die toiletgeriewe te inspekteer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

One Comment

  1. My kind is in Helderkruin laerskool en ek was op menig male al by die skool met my seuntjie e die badkamers was skoon en netjies. As ouers nie hulle kinders kan leer om ander mense se goed op te pas nie is die skool se hande af gekap. Die skool kan nie nog kinders badkamer maniere ook leer nie.
    Ek het al baie erger gesien.

Back to top button