Hulp by twee polisiestasies geweier
Nadat hy self warm op die spoor van die gesteelde motorfiets was, het is hy by twee polisiestasies hulp geweier omdat hulle glo skofte geruil het.
‘n Man is hulp by twee polisiestasies geweier nadat sy motorfiets uit sy erf gesteel is.
Kobus Swanepoel, 44, is sy Suzuki GSXR motorfiets kwyt toe dié vroegoggend op Dinsdag 11 November gesteel is. Die motorfiets, waarvoor hy twee jaar lank gespaar het, is om ongeveer 1vm uit die Klein Drakenstein-kompleks in Snipestraat gesteel waar dit onderdak geparkeer en toegesluit was. Swanepoel het 5vm besef die motorfiets is gesteel toe hy daarmee wou werk toe ry. Hy het gesê daar is die afgelope ses jaar menige voertuie op die perseel gesteel, insluitend sy vrou se motor. Swanepoel, ‘n trokdrywer van beroep, moet nou weer na sy werk in Florida toe stap en die trein haal. ‘n Hartseer Swanepoel vertel hy het twee jaar lank soggens van Horison af na die naaste treinstasie gestap waar hy ‘n trein na sy werksplek in Albertina Sisuluweg in Florida gehaal het. “Ek het dit juis gedoen om nie geld aan taxi- en busvervoer te bestee nie sodat ek vir my eie ryding kon spaar,” sê hy.
Swanepoel sê hy is glad nie tevrede met die diens wat hy by twee polisiestasies gekry het toe hy die saak aangemeld het nie. Hy was eers by die Roodepoort Polisiestasie.
“Ek het gewikkel om die saak aan te meld nadat ek besef het my motorfiets is weg,” sê hy. “Ek het die Roodepoort Polisie gevra om ‘n motor uit te stuur en te help soek, want die motorfiets was moontlik toe nog in die area.”
“Hulle verskoning was dat hulle in daardie stadium besig was om skofte te ruil en niemand kon uitstuur nie.”
Swanepoel het sy vrou se motor geleen en self Roodepoort platgery op soek na die gesteelde motorfiets, wat hy uiteindelik in Newlands opgemerk en agtervolg het. Die verdagte het hom net-net ontglip. “Jy kan die motorfiets nie miskyk nie; hy is rooi en wit en het unieke plakkers op,” sê Swanepoel.
Hy het toe by Sophiatown Polisiestasie aangeklop, ‘n verklaring afgelê en weereens om hulp gevra, maar dieselfde verskoning van skofte ruil gehoor.
“Ek het hulle vertel dat die motorfiets nog in die area is en dat ek verby die polisiestasie agter hom aangejaag het,” het Swanepoel gesê. “Ek voel hartseer en lus om die reg in eie hande te neem, maar ek weet my hande is afgekap. Dalk moet ek ook bedel of steel.”
Roodepoort Polisiewoordvoerder Nonhlanhla Khumalo was nie beskikbaar vir kommentaar oor die saak nie en die Sophiatown Polisie het gevra dat ‘n versoek om kommentaar skriftelik aan hulle gerig word. Die record wag nog vir terugvoering.
Kliek hier vir foto’s van die motorfiets
https://www.youtube.com/watch?v=VQSBV3DVu30&feature=youtu.be




Dit is uiters pateties en onaanvaarbaar dat die diens van die SAPD so verswak het.
En dan wonder hulle waarom mens die reg in eie hande neem?
Swak man, swak.