Hoërskool Roodepoort se Graad 12-redenaarsspan het in Oktober aan die finaal van die Nasionale Radikale Redenaarsfees deelgeneem.
Vier matriekleerlinge – Alexandre Nieman, Altus Boshoff, Sandrie van Graan en Kobie Hughes – het tot op die einde van hul skoolloopbaan lojaal en voluit hulle skool verteenwoordig.
Hulle het vierde plek behaal by die fees en hulle afrigter, Petro Janse van Rensburg sê sy is ongelooflik trots op hulle.
“Hierdie vier leerlinge het ‘n natuurlike talent. Dit was baie bevredigend om te sien hoe elkeen oor die laaste drie jaar as spreker ontwikkel. Dit was ‘n eer om hulle af te rig en om saam met hulle, vir ‘n tweede keer, die nasionale finaal te bereik,” sê Janse van Rensburg.
Die span het ook tydens Hoërskool Roodepoort se matriekprysuitdeling die skool se toekenning vir ‘Ambassadeurs van die jaar’ ontvang. Die skoolhoof, Munnik van der Merwe het hierdie toekenning aan die leerlinge oorhandig en hulle geprys vir hulle prestasies.



