Witpoortjie — Belinda Joubert van Drommedarisstraat se geduld met Joburg Water is aan die opdroog.
Twee maande gelede het die diensleweraar herstelwerk aan ‘n pyp gedoen wat deels onder haar inrit verbyloop en hulle moes noodgedwonge die oprit van teer en sierklip opkap. Die span het haar belowe dat hulle sal terugkeer om die skade te herstel.
Toe Joburg Water nie terugkeer nie het sy hulle geskakel en ‘n verwysingsnommer gekry. Weereens is daar aan haar gesê dat hulle bewus is van die probleem en dat hulle binnekort die skade sal herstel. Vele eposse het gevolg en Joubert sê dat sy selfs ‘n paar keer ‘n Joburg Water-voertuig by haar oprit gewaar het maar dat die werkers blykbaar die skade net inspekteer en dan weer ry sonder om iets te doen.
Soveel tyd het nou al verloop dat gras die deel van die inrit toegegroei het. Sy het selfs die raadslid, Gert Niemand se hulp ingeroep maar sy pogings het tot dusver ook geen vrugte afgewerp nie.
Volgens Niemand is dit die stad se beleid dat wanneer hulle skade aanrig gedurende herstelwerk of met enige installeringsproses hulle dit kompleet sal herstel.
“Dis tipies van die kultuur van die entiteite. Hulle voel niks vir die verbruiker nie,” sê Niemand. “Ek het selfs al ‘n epos aan die topbestuur van Joburg Water gerig, maar hulle het nie eers die ordentlikheid om my te antwoord nie,” sê hy.
Joburg Water se tydelike woordvoerder, Puleng Mopeli kon nie vir kommentaar bereik word nie.



