Mynsand het weereens tot groot onmin gelei onder die inwoners van Ghost Town.
Die inwoners van die woonstelblokke in John Mackenziestraat, wat ook as Ghost Town bekend staan, voer reeds jare ‘n stryd teen die sand van die mynhoop wat reg op hulle agterstoep is. Wanneer dit reën vloei sand teen die helling af, in hulle woonstelle in en die straat af. Hulle kla dat behalwe vir die beslommernis van hul woonstelle skoon hou, hulle ook gesondheidsprobleme soos asma ondervind.
Die stadsraad het reeds ‘n aksie van stapel gestuur om die mynhoop te rehabiliteer maar dit is ‘n stadige proses. Intussen is ‘n meter hoë muurtjie aan die kant van die woonstelle gebou om die sand uit te hou maar daar is een probleem – ‘n groot gaping aan die bokant laat die sand in elk geval deur wat die funksie van die muur tot niet maak.
Inwoners Connie Schoeman, Byron Theron en Clive Coetzee sê die gemeenskapskakelbeampte Theo Visagie het telkens met ander inligting vorendag gekom. Daar word beweer dat beloftes gemaak is om die muur hoër op te bou, maar die inwoners net wil hê dat die gaping in die bestaande muur toegebou moet word. Visagie sê op sy beurt dat die gemeenskap se versoeke heeltyd verander.
Met die record se besoek op 5 November het gemoedere taamlik hoog geloop tydens ‘n impromptu vergadering tussen Visagie, die gemeenskap en een van die ingenieurs van die stad se kontrakteurs. Volgens die gemeenskap word hulle ‘n rat voor die oë gedraai en word daar nie effektief na hulle versoeke geluister nie. Visagie het hulle belowe dat ‘n ander ingenieur hulle nog dieselfde dag sou ontmoet om na hulle versoeke te luister en dienooreenkomstig op te tree.
Theron sê die gemeenskap sal ook graag wil sien dat wanneer die muur toegebou is, die bome verwyder word aangesien dit ‘n broeiplek is vir euwels soos dwelmmisbruik.
Verder kla die gemeenskap ook dat slegs een persoon uit die gemeenskap werk uit die projek gekry het om die area te rehabiliteer, terwyl daar belowe is dat al die werk net aan die inwoners sal gaan.
City Parks, wie se projek die muurtjie blykbaar is, se woordvoerder Jenny Moodley het die record na hulle operasionele bestuurder en ingeneur Emmanuel Maphorogo verwys. Die record wag vir terugvoering.



