Menige inwoners se mooi herinneringe aan die goeie tye wat hulle by Roodekrans-lapa gehad het, het nou meer as net ‘n stink klankie bygekry.
Een so ‘n inwoner is Rudolph Vermeulen wat reeds van jongs af in Roodekrans woon onthou ook die lekker braais en ander kuiers wat hy as jongmens by die lapa gehad het. Later het hy graag sy honde vir ‘n stappie in die eens mooi park gevat maar sê dat dit nie meer ‘n plesier is nie.
Riool loop van twee oorsprongpunte die park en stroompie binne en is onuithoudbaar onwelriekend. Die park se gras is lanklaas gesny en rommel is oral versprei. (Dit is duidelik dat die persone wat rommel bymekaar maak en weer vir herwinning verkoop hulle sorteerwerk hier kom doen en dan dit wat hulle nie gebruik nie net so agterlaat).
Buite sig groei die daggaplante ook welig. Meeste van die braais is onbruikbaar en die toiletfasiliteite is al twee jaar gelede afgebreek, glo reeds om sluipslapers weg te hou.
“Dis nie meer ‘n plesier om met die honde hierheen te kom nie. Ek moet heeltyd keer dat hulle nie in die water gaan of daarvan drink nie. Boonop lê daar aardige goed soos kondome en vuil babadoeke rond en mens moet ook konstant keer dat die honde nie daaraan gaan ruik nie,” sê Vermeulen.
Hy sê hy het al die rioolprobleem by Johannesburg Water sowel as City Parks aangemeld maar sonder sukses.
Die DA-raadslid vir die wyk, Suzanne Clarke sê dat die sluipslapers ‘n voortgaande probleem is maar dat sy dit onlangs weer onder die aandag van die metropolisie gebring het. Sy sê ook dat sy onmiddelik die rioolprobleem sal ondersoek en onder die relevante owerhede se aandag sal bring.
City Parks kon teen druktyd nie vir kommentaar bereik word nie.



