Karakters van ‘Trompie’ vertel wat hulle deesdae aanvang
ROODEPOORT – Trompie en sy Boksombende en hulle stories as volwasse mans en hoe 'Trompie' hulle lewens beïnvloed het.
As jy die woorde Trompie en die Boksombende hoor, dan dink jy onmiddelik aan Kees die bobbejaan, induikskoene en vier baie stout seuns wat altyd ‘n aap in die mou gehad het.
Die boek is geskryf deur Topsy Smit in die vroëe 1950’s. Smit het vir Sarie Marais tydskrif onder die skuilnaam Bettie Naudé geskryf waarin hy die verhale van Trompie en sy Boksombende vertel het, alhoewel hy onbewus was dat dit 30 jaar later ‘n groot treffer op televisie sou wees.
Die reeks was grotendeels so suksesvol omdat regisseur Jan Engelen sy tyd gevat het om 100 seuns te kies wat op die ou einde tot vier sou uitdun wat dan die rolle van Trompie en sy bende sou vertolk. Ivan Snyman, wat Rooie gespeel het en ‘n ou Wes-Rander is, vertel dat hy nog presies onthou hoe die seuns moes kompeteer vir die rolle. “Engelen het in al die klasse gesit in meeste van die skole in die Johannesburg area en hy het seuns uitgekies vir die rolle. Nadat hy 100 gekies het, moes ons almal deurgaan na die Westdene-dam waar ons strooisakresies teen mekaar moes hou en op en af moes hardloop. Hy het hieruit die vier gekies wat hy gedink het die rolle moes vertolk.”
Riaan Winter, wat die hoofrol van Trompie gespeel het, vertel dat dit vreeslik fisies was op die stel en die jongmanne was heeltyd aan die gang. “Iets wat ek onthou, is die bobbejaan in die heel eerste episode. Ons moes die bobbejaan rondtrek en ek was daai dag so omgekrap want die bobbejaan het my elke nou en dan raakgebyt.”
Blikkies (Sean du Preez) onthou hoe die mense in die laat 70’s opgewonde geraak het as hulle ‘n SAUK-[SABC] bus sien wat gewoonlik die filmspan en al die toerusting vervoer het. “Die mense van die verskeie dorpe en plekke het almal op die plek waar ons geskiet het, saamgedrom en dit het gelyk of daar ‘n sirkus in die dorp was.”
Die vier karakters, wat toe nog kinders was en nou al van hulle eie kinders het, vertel hoe hulle uitgedraai het na Trompie. Winter het LLB Regte gaan studeer na skool en woon tans in die Kaap saam sy familie waar hy soms nog herken word in die strate en winkelsentrums.
Snyman het na skool in die elektriese wêreld inbeweeg waar hy tans ‘n elektriese maatskappy in Kyalami besit en alhoewel hy in Johannesburg woon, is sy hart in die Kaap en hy is meeste naweke op sy plaas buite Paternoster.
Du Preez het na die Trompie-reeks in die dramabedryf ingegaan en hy het ook drama geswot. Hy het in die 1986 film, Dada en die flower, ‘n groot rol vertolk en daarna het die filmvlooi hom gebyt en hy is tans ‘n kameraman by Kyknet se Ontbytsake.
Dawie is deur Petrus Jooste gespeel. Hy woon tans ook in die Kaap en is ‘n bestuurder by Woolworths. Volgens Snyman is Jooste ‘n groot man met ‘n baie klein hartjie wat altyd ‘n oor het om te luister.
Du Preez sê, “Topsy Smit het dit reggekry om Trompie en die Boksombende te skep in ‘n tydlose stuk Afrikaanse literatuur wat kinders en die ouer garde nog steeds vandag kan lees en geniet.”
Skakelpersoon van die Boksombende, Pieter de Waal, het bygevoeg dat aanhangers die Facebook-blad genaamd: www.facebook.com/kwaggaberg kan gaan ‘like’ om te sien wat se streke die manne als deesdae aanvang.



