Danie Coetzee se moeder is in die finale fase van nierversaking. Boonop maak City Power nie die lewe makliker vir hom en sy gesin nie.
Coetzee en sy gesin woon reeds 25 jaar by die adres in Kingfisherstraat. Met die ou elektrisiteitmeters wat hulle daar gehad het, was daar nooit probleme nie. Soos klokslag is sy lesing kom neem en die rekeninge was in orde. In April vanjaar installeer City Power toe een van die slimmeters wat nie op die perseel gelees hoef te word nie en die Coetzees se probleme het begin. Eers hou die kragleweraars aan om skattings te doen op grond van die lesings op ou meter wat uitgehaal is. Nadat Coetzee gekla het en ondersoek ingestel is, is bevind dat sy meter nie geaktiveer is nie en dat vier spanne spook om 15 000 meters oor een naweek geaktiveer te kry. Alhoewel hy belowe is dat alles in orde sou wees, word sy meter steeds nie gelees nie – hetsy fisies of per afstand – en sy rekening steeds op vae skattings gebaseer. In Julie kry Coetzee ‘n vooropskortkennisgewing waarna hy blitsvinnig die stappe volg wat vereis word om ‘n dispuut met die munisipaliteit te verklaar aangesien sy rekening wat gewoonlik R2 000 beloop toe skielik R6 000 was. Ten spyte van die stappe ontvang hy ‘n tweede kennisgewing in September en hy sê hy vermoed ‘n derde een was op pad.
“Die munisipaliteit weet nie wat mense se omstandighede is nie en voel blykbaar vere. Eerstens sien ons om na my moeder wat in die finale fase van nierversaking is en terminaal siek is. Met ‘n suurstofmasjien wat moet werk kan ons nie bekostig dat ons krag afgesit word nie. Verder studeer my dogter by ons vir haar finale jaar-eksamens by Noord-Wes Universiteit in Potchefstroom en sy het daarvoor ook elektrisiteit nodig. Ons leef in ondraaglike spanning en City Power dra net by deur nie hulle gemorswerk reg te stel nie,” sê Coetzee.
“Wat my verder grief is dat ons van daardie gesinne is wat uit ons pad gaan om krag te spaar. Ons skakel die geiser af, gebruik nie meer die swembad nie en het die pomp afgeskakel, en het allerhande ander reëlings getref maar wat doen die munisipaliteit? Slaan ons verkeerdelik hoër aan.
“Ek is ook glad nie genoë met die vrywaring wat op die rekening staan nie. Daarvolgens aanvaar die munisipaliteit geen verantwoordelikheid vir skade wat wat gely word wanneer elektrisiteit afgesny word nie. Ek kan jou waarborg dat as my moeder sterf daardie vrywaring in die hof getoets sal word – veral omdat hulle verkeerd is en ek die bewyse het dat ek hulle stappe gevolg het om die probleem op te los,” sê ‘n duidelik gegriefde Coetzee.
City Power kon nie bereik word vir kommentaar nie.



