NewsSchools

Havies is aandreekskampioene

Span wen gesogte aandreeks.

Laerskool Dr Havinga se eerstekrieketspan het hierdie jaar behoorlik koning gekraai by die jaarlikse Sentraal-Wes aandreeks.

Verskeie skole in die distrik het aan die 15/15-reeks deelgeneem wat op Laerskool Helderkruin se velde gespeel is. Daar is vier bene waarvan elk drie spanne het. In elke been het die drie spanne teen mekaar gespeel en die wenners het tot die troffee-uitspele deurgedring en die naaswenners tot die plaatuitspele. Op die finale aand is daar vir ‘n plaat en troffee gespeel.

Die uitmuntende Havies-eerstespan het hulle eerste wedstryd oortuigend met 60 lopies teen Constantia Kloof gewen. Jaco Ferreira is daar as speler van die wedstryd aangewys. Daarna het hulle kragte gemeet teen Laerskool Kenmare waar Dr Havinga met uitstekende veld- en boulwerk hulle tot ‘n lae telling kon terughou. Die openingskolwers van Dr Havinga, Zander Coetzer en Jaco het in ‘n japtrap in nege beurte die wedstryd in die sakkie gehad. Zander het 74 lopies van 32 balle ingepalm. Dr Havinga wen die wedstryd met tien paaltjies.

Die volgende wedstryd was teen ‘n gedugte Laerskool Florida-span. Weereens was die veld- en boulwerk van Havies van top gehalte en kon Florida net 108 aanteken. Dr Havinga se openingskolwers het die boulwerk met baie selfvertroue aangepak en Florida het geen antwoord op Zander (92 van 38 balle) en Jaco se koelkopkolfwerk gehad nie. Havies wen die wedstryd met tien paaltjies.

Die finaal was ‘n opwindende stryd waar Maragon Private Schools ‘n totaal van 112 aangeteken het in hulle 15 beurte. Dr Havinga moes egter hard baklei om lopies aan te teken. Die seuns het nie gaan lê nie maar met ywer en karakter aanhou veg. Met sewe paaltjies plat en nege lopies van agt balle het die twee kolwers (Jaun Alberts en Ruben van Rooyen) kalm gebly en met selfvertroue die twee balle wat oor was, die lopies aangeteken.

Tydens die prysuitdeling het talle seuns met pryse weggestap. Jaun is aangewys as speler van die wedstryd met ‘n pragtige 42 lopies. In wedstryd een was Jaco met 57 lopies die speler van die wedstryd. In wedstryd twee en drie was die speler van die wedstryd Zander met 74 lopies teen Kenmare en 92 lopies teen Florida. Zander is ook aangewys as kolwer van die reeks en Master Blaster vir meeste viere en sesse geslaan. In ‘n gesprek met een van die afrigters het hy gesê dis “ongelooflik. Die span het karakter en werk pragtig saam as ‘n span.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button