As gevolg van die finansiële penarie waarin Ilse Venter haar bevind het, was ‘n matriekafskeid vir haar dogter Jesse-Lee Voster buite die kwessie.
Volgens Venter sou die matriekafskeid van haar dogter, ‘n leerling aan Hoërskool Roodepoort, R450 kos net om te kon gaan en dan was die rok, naels en ander bybehore nog nie eens betaal nie.
Boonop het sy agter geraak met skoolfonds en ‘n maand voor die matriekafskeid het die balju aan haar deur geklop.
Voster lag hartseer as sy vertel hoe sy die balju, Stephan Kok ingenooi het en aan hom gesê het dat daar niks is om op te skryf nie. Sy het ook terloops aan hom genoem dat haar dogter nie eens die matriekafskeid kon bywoon nie. Kok was verbaas hieroor en het vir haar gesê dat haar dogter moet gaan en dat hy ‘n plan sal maak. Venter het aanvanklik nie veel gedink van die belofte nie maar tog in haar hart gehoop en gebid.
Op die dag wat die kaartjieverkope na die matriekafskeid moes sluit, het Kok weliswaar opgedaag. Die R450 is betaal, Jesse-Lee is gevat om materiaal te gaan kies en Kok het self die rok begin maak. Daar was een passessie en Jesse-Lee het vir die eerste maal, op 2 Oktober, die dag van die matriekafskeid, die pragstuk gesien. Hy het gereël dat haar naels, hare en grimering gedoen word en dat sy bybehore soos die handsak en skoene kry. Hy het ook ‘n spogwa gereël om haar na die geleentheid te neem.
“Hoe sê mens genoeg dankie? Ek wil net graag vir hom dankie sê, en vir ander mense laat weet daar is nog weldoeners in ons gemeenskap. Dankie, dankie, dankie. Die Here gaan jou nog ryklik seën,” sê Venter.
Kok vertel dat voor hy vir die balju gewerk het hy ‘n onderneming bedryf het wat rokke gemaak het. Nou doen hy dit slegs as ‘n stokperdjie. Een maal ‘n jaar help hy ook een meisie wat finansieël nie daartoe instaat is om die geleentheid by te woon nie, om haar droom te bewaarheid.
En die prinses wie se sprokiesverhaal waar geword het?
Jesse-Lee sê met blink oë dat dit baie spesiaal was. Wat dit soveel meer spesiaal maak is die feit dat Jesse-Lee twee jaar gelede haar niggie in ‘n tragiese skietvoorval net voor dié se matriekafskeid verloor het. Jesse-Lee sou dus die eerste dogter in die familie wees wat ‘n matriekafskeid sou bywoon en was dit nie vir Kok nie het die droom byna nie waar geword nie.



