NewsSchoolsUpdate

Bastion se Dok Prinsloo word 52

Hoërskool leerlinge vier graag hul skoolhoof se 52ste verjaarsdag saam met hom.

Doktor Anton Hugo Prinsloo oftewel Hoërskool Bastion se geliefde hoof, Dok Prinsloo, het sy 52ste verjaarsdag op Woensdag 17 September by die skool gevier.

Elke jaar is Dok se verjaarsdag ‘n fyn beplande affêre. Leerlinge sit gereed op die amfiteater en fluister oor hoe hulle dink hy dié jaar gaan arriveer. Oor die jare is dit so gedoen – almal sit tjoepstil op die amfiteater en die skool lyk leeg. Dan kom die hoof en sy entourage per helikopter of perdekar of wat ook al die leiers opgekook het, by die skool aan.

Dié jaar het hy per polisiemotor opgedaag, met nog ‘n tweede polisiemotor en ‘n Jeep aan weerskante. Hy is na sy stoel vergesel deur Roodepoort-polisiemanne sowel as die Meneer en Mejuffrou Bastion wenners, waar ‘n drankie aan hom bedien is.

Die leiergroep van 2014 het hom bedank dat hy so hard werk om die skool op te bou.

“Danksy Meneer se verjaarsdag het ons vandag ‘n daggie af; maar buiten dit beteken Meneer se insette en leierskap vir ons baie,” het leier Luanelle van Niekerk tergend gesê.

Prinsloo het die leerlinge en sy personeel bedank vir die spesiale reëlings met sy verjaarsdag en vertel dat hy al sedert 1998 (die afgelope 16 jaar) sy verjaarsdae by die skool vier.

“Elke geleentheid is en bly spesiaal vir my.”

‘n Enorme kaartjie in die vorm van ‘n lapelbaadjie is aan hom oorhandig. ‘n Verjaardagkoek, wat spesiaal geborg is deur Lexi’s Coffee Shop in Krugersdorp en wat in die vorm van ‘n kraaghemp en sy gunsteling das is, is ten toon gestel. Heinrich van der Schyff, ‘n kunsleerling, het ‘n pragtige portret van Prinsloo geverf en dit vir hom as geskenk gegee.

Na die vieringe op die amfiteater is Prinsloo in sy kantoor verwelkom deur Anmaricka Oosthuizen en Chetané Pieterse waar hy en die adjunkhoofde bederf is met ‘n spesiale ontbyt.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button