Hokkie bokkies presteer, gaan Noordvaal toe
Noordvaal kompetisie vind plaas in Augustus.
Ook op die hokkieveld het Hoërskool Bastion groot suksesse behaal die afgelope wintersportseisoen.
Drie van Bastion se dogtershokkiespanne het vroeër in Junie in die finaal van die liga gespeel. Die o/14 dogstershokkiespan het teen Krugersdorp High School geseëvier, terwyl die o/16 dogtershokkiespan vir Hoërskool Florida die loef afgesteek het. Beide hierdie spanne tree dus as ligawenners uit die stryd. Die 1ste hokkiespan moet ongelukkig tevrede wees met ‘n tweede plek.
Hierdie prestasies bring mee dat al drie hierdie spanne na die Noordvaal-kompetisie deurdring. Hierdie kompetisie vind in die derde kwartaal plaas en die toppresterende skole in die onderskeie streekliga’s in Gauteng, Noordwes, Mpumalanga en Limpopo neem daaraan deel. Die wedstryde vind vroeg in Augustus plaas.
Drie van die skool se dogters is ook in Suid-Gautengspanne opgeneem en neem gedurende die vakansie aan die onderskeie toernooie deel. Hulle is Monique du Toit en Raquele Pretorius, albei o/14 spelers, en Neo Mabe, ‘n o/18 speler.



