Local newsNewsUpdate

“Niemand weet wanneer hul rol op Aarde vertolk is nie”

Roodie-leerling (17) se laaste toespraak word gelees.

Die record het ‘n afskrif ontvang van ‘n toespraak wat die 17-jarige Jessica St.Clair-Whicker kort voor haar dood geskryf het.

Volgens die woordvoerder van die skool, Ronel Bezuidenhout is dit “‘n afskrif van Jessica se matriek Afrikaanse voorgeskrewe mondelinge eksamen wat sy gelewer het weke voor die tragedie”.

Die toespraak lees as volg:

Agter die skerms, lank reeds gegrimeer, aanskou ek die verhoog se glans en kleur en wag dat U my toelaat om oplaas my rol te gaan vertolk, o Regisseur.

Ek as mens wag vir God se instruksies vir wanneer ek my rol kan vertolk. Wat is God se rol vir my? Wat is sy planne vir my? In Ina Rousseau se saamgestelde gedig, Kwatryne, wat uit haar digbundel uit kom word daar verskeie punte gestel:

Eerstens, reg deur die gedig word ons lewens metafories met ‘n toneelspel vergelyk. In die toneel is ons as mens die akteurs en God die Regisseur. Ons hele lewe is reeds vooruit beplan. Ons hele lewe is in God se hande net soos wat ‘n toneel in die regisseur se hande is.

Hoe chaoties is ‘n ongeorganiseerder lêer of kantoor nie? Jy sal nie weet waar om te werk of te soek nie. Dink net hoe chaoties sal ons lewe wees sonder God.

As daar applous was vir die laaste maal en U die dekor moeg na onder haal, sal U vir ons wat ons kostuums uittrek, volgens ons moeite en geduld betaal?

Tweedens, akteurs word betaal/ beloon om toneel te speel. Dit grootste beloning waarvoor ons kan vra en voor werk is om eendag in die hemel te kom. Ons werkie wat God ons gee is om sy Woord te versprei en in Jesus se voetspore te volg.

Niemand weet wanneer hulle rol hier op aarde vertolk is nie. Moet nie op 75 jaar besluit jou lewe begin nou nie, jy weet nie hoe lank jy hier gaan wees nie.

In hierdie klug vergeet ‘n akteur soms heel onverwags sy reëls en loer versteur na die coulisses links en regs maar geen souffleur se stem dring tot hom deur.

Derdens, daar is nie altyd iemand wat jou weer op die regte pad kan lei as jy nie meer kan onderskei tussen reg en verkeerd nie. Indien jy wel van jou waardes verloor en van jou lewensreëls vergeet, is God altyd daar, maar soms moet jy jou eie pad vind.

Moet nie wag tot op die laaste nippertjie om wakker te skrik en jou lewe voluit te lewe nie, begin nou.

Leef jou drome uit en doen wat God van jou verwag om te doen.

Ofskoon die saal se ligte nie meer brand vra enigeen aan die verhoog se kant nogsteeds: “Is ek van hierdie klug die held of teen die agterdoek ‘n figurant?”

Ten slotte, as my tyd verby is wil ek beslis die held wees van my toneel. Wie wil nou ‘n figurant of ekstra wees as jy die rol goed genoeg vertolk het soos wat die regisseur vir hulle beplan het? Net so wonder ons ook of dit wat ons nou doen goed genoeg is om in die Hemel te kom.

Agter die skerms, lank reeds gegrimeer, aanskou ek die verhoog se glans en kleur en wag U my toelaat om oplaas my rol te gaan vertolk, o Regisseur.

Roodies groet hul maat ‘n laaste keer

Leerlinge en personeel van Hoërskool Roodepoort, asook ouers het Vrydagmiddag tydens ‘n gedenkdiens by die skool hul laaste eer aan wyle Jessica St Clair-Whicker betoon.

Die verrigtinge wat om 12 uur begin het, is ook deur haar ma en pa en die skoolhoof, Munnick van der Merwe bygewoon.

Daar is eers gesing waarna verskeie sprekers, soos Jessica se VSR-vriendin wat haar in die hospitaal besoek het, van die goeie tye vertel het. Dit was ‘n uiters emosionele ervaring toe talle foto’s van Jessica se lewe op ‘n groot skerm vertoon is.

“Sy was ‘n wonderlike kind,” het Van der Merwe na die verrigtinge gesê.

Sport-ster (17) van Roodies sterf

Hoërskool Roodepoort is in rou en geskok na die skielike dood van hul uitstaande sport-ster en matriekleerling, Jessica St.Clair-Whicker.

Die skool het bevestig dat Jessica verlede week begin siek voel het en later in die intensiewesorg-eenheid in Life Flora Hospitaal opgeneem is waar sy Sondag 15 Junie oorlede is. Sy is gister vanuit die NG Kerk Roodekrans begrawe.

Volgens dié wat haar geken het was Jessica ‘n pragtige mens met ‘n glimlag vir almal om haar. Daar is ook gesê dat talle van haar span- en skoolmaats haar as ‘n rolmodel beskou het.

Jessica was ‘n presteerder in verskeie sportkodes. Sy was vir die afgelope drie jaar Roodies se sportdogter van die jaar, kaptein van die skool se eerstenetbal- en dogterskrieketspan, sy het onder andere die Gauteng Wes-netbalspan verteenwoordig, veral uitmuntend in atletiek presteer asook provinsiale kleure in judo gehad.

Jessica was ook ‘n VSR-lid.

Sy word oorleef deur haar pa Bruce, ma Sandra, broer Raymond (wat verlede jaar gematrikuleer het) en haar jonger suster Megan (tans ‘n Graad 11-leerlng van die skool).

“Sy was ‘n engelkind en ‘n persoon wat met almal oor die weg gekom het. Ons sal haar glimlag nooit vergeet nie,” sê Roodies se woordvoerder Ronel Bezuidenhout.

Jessica St.Clair-Whicker.
Jessica St.Clair-Whicker.
Roodie-leerlinge troos mekaar na die gedenkdiens.
Roodie-leerlinge troos mekaar na die gedenkdiens.
Jessica is die afgelope naweek op 17-jarige ouderdom oorlede.
Jessica is die afgelope naweek op 17-jarige ouderdom oorlede.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

3 Comments

  1. Dis baie sad ek wil net graag met die familie simpatiseer en alle sterkte toe wens

  2. R.I.P. Jessica. So jonk nog, maar veilig aan Jesus se voete. Sterkte aan die ouers broers susters vriende en skoolmaats. Daar word gese n ouer moet nie sy kind begrawe nie maar anders om. Tog het HY haar baie vroer nodig gehad. Xx

  3. O my hemel!! Ek lees haar toespraak en ek kry koue rilling op koue rilling. Eerstens, haar geloof wat sy openbaar in die toespraak en tweedens haar insig in die lewe is iets wat enige persoon wat dit lees, twee keer sal laat dink.

    Ek bring hulde aan jou Jessica. Jou plek in die lewe, jou gesin en Hoërskool Roodepoort is leeg. Jy was voorwaar ‘n voorbeeldige dogter.

Back to top button