Die tyd het aangebreek vir een van Laerskool Helderkruin se grootste byeenkomste op hul kalender.
Op Vrydag 20 Junie bied die skool hul jaarlikse koorfees aan by die AFM Kerk in Noordheuwel om 7nm. Soos altyd beloof dit om vir groot vermaak te sorg.
Eerstens op die program sal die gaskunstenaars Con Grazia – ‘n talentvolle trio van beeldskone sussies – hul musikale talent ten toon stel.
Con Grazia, wat uit Syntiche, Sharon en Marchelle bestaan, sluit klassiek, jazz en kontemporêre in hulle musiek in. Hulle gebruik instrumente soos die saksofoon, viool, fluit en klavier. Die ensemble tree tydens korporatiewe – en privaatfunksies op, en is reeds maande vooruit bespreek.
Volgens organiseerder en begeleidster van Laerskool Helderkruin Carien Horn, maak die musiekgroep reeds die afgelope 16 jaar musiek.
Tydens die geleentheid sal die junior en kinderkoor van Laerskool Helderkruin, asook ander talentvolle kore soos die Magaliesberg Kinderkoor, Laerskool Roodekrans se junior en senior koor en Laerskool Horison se junior koor optree.
Allegro Con Spirito Kinderorkes sal ook tydens die koorfees hul musikale talente ten toon stel.
“Ons is opgewonde oor die massakooritem wat kunstenaars en kore saam gaan opvoer. Die koorfees beloof musiek tot elkeen se smaak. Die koorfees is ons jaarlikse kultuurhoogtepunt by Laerskool Helderkruin, en ons hoop om ‘n stampvol saal te lok”, sê Horn.
Kaartjies behoort vinnig te verkoop en belangstellendes kan vir Carien Horn by 011 764 2506 kontak vir meer inligting of vir kaartjiebesprekings.
Vir meer inligting oor die Koorfees en die gaskunstenaars, besoek www.laerskoolhelderkruin.co.za of www.congrazia.co.za.



