Judo-boffin Ivan Olivier en Graad 5-leerling van Laerskool Helderkruin se prestasies het almal aan die praat.
Ivan is onlangs in die Western United Judo Association se span opgeneem wat van 6 to 12 Julie aan die Suid-Afrikaanse Judo Ope Kampioenskappe gaan deelneem.
Die kampioenskappe word op die kampus van die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU) in Port Elizabeth aangebied.
“As ‘n mens kyk na die medaljes wat die mannetjie al ingeoes het, is dit duidelik waarom hy SA’s toe gaan,” sê die skool se woordvoerder, Isobel Mitchley.
“Ons Kruiners glo Ivan het die vermoë om goed te vaar tydens die kampioenskappe en ons wens hom sterkte toe.”
Van sy onlangse prestasies op die judomat sluit in ‘n silwermedalje tydens die Sentraal Gauteng Judo Kampioenskappe in Johannesburg, en ‘n bronsmedalje tydens die Western United SA Proewe en Grand Slam vir Judo in Randfontein.
Ivan se groot deurbraak het gekom toe hy goud tydens die Western United SA Proewe en Grand Slam vir Kime-no-kata in Mei losgeslaan het.



