Die dokumentasie is dalk nog nie heeltemal afgehandel nie maar Laerskool Dr Havinga het aangedui dat ongeveer 150 kleintjies belangstel om volgende jaar in te skryf.
“Ongeveer 150 nuwe leerlinge het die oggend se verrigtinge tydens ons opedag bygewoon en niemand het vertrek voor hul nie seker was hulle is ingeskryf vir 2015 nie,” het Lizelle Kies van Laerskool Dr Havinga bevestig.
Die opedag het met ‘n ontmoetingsoggend afgeskop vir alle voornemende Graad R’e en Graad 1’s van 2015 gevolg deur ‘n kort modeparade.
“Elke voornemende Havie het ‘n pet ontvang met die bewoording ‘Oppad na die Havies’ wat mooi aansluit by ons skool se motto vir die jaar: Stap die pad van uitnemendheid,” sê Kies.
“Elke leerling het ook ‘n botteltjie water ontvang voordat hulle saam met hul ouers op ‘n staptoer deur die skool gegaan het. By elke punt van die toer het die leerlinge ‘n inkleurblaadjie en lekkers ontvang.”
Een van die hoogtepunte van die toer was toe die kleuters ‘n rit in die skool se bus geniet het.
“Aan die einde van die toer is al die inkleurblaadjies gebind in ‘n inkleurboekie en het elke Haasbekkie ‘n pakkie vetkryt ontvang. Hulle moes ook hul name op ‘n voetafdruk skryf en teen die Havie-pad van uitnemendheid muur gaan plak. Daarna is hulle weereens bederf met ‘n Slush Puppie-koeldrank en ouers kon heerlik kuier met ‘n koppie koffie in die hand,” sê Kies.
“Ons sien uit na ‘n besondere jaar saam met besondere kinders,” eindig Kies.




