Blou masjien maak amok teen Die Adelaar
Rugbyspanne wen al drie kragmetings teen buurskool.
In slegs hul eerste jaar in die kleinskole-afdeling het Hoërskool Roodepoort al klaar gewys hy hoort nie daar nie nadat hulle Die Adelaar op die rugbyveld verneder het. Roodies is in 2013 van die mediumskole-afdeling na kleinskole-afdeling afgeskuif.
Wat as ‘n ligakragmeting vir Die Adelaar begin het, het in ‘n totale nagmerrie geëindig nadat al drie hul rugbyspanne teen die blou masjien slae gekry het.
Om te begin het die meer senior spanne, naamlik die o.16-A’s en eerstespan altesaam 26 drieë gedruk om onderskeidelik met 83-0 en 87-0 te seëvier. Die eerstespan was reeds teen halftyd 59-0 voor. Roodies se o.14-span het ‘n bietjie gesukkel maar tog met 20-12 gewen.
“Ons kan nie te veel uit die wedstryd haal nie en dit was nie iets om oor huis toe te skryf nie, maar ons is tevrede met hoe die manne afgerond en by die wedstrydplan gehou het,” sê Roodies se eerstespanafrigter Louw Parsons.
Parson is veral in sy skik met die reserwebankspelers wat na halftyd opgestuur is. Hulle het die eerstekeuse-spelers se skoene volgestaan.
“Ons ware toets is oor twee weke (31 Mei) teen Wonderfontein wat glo onoorwonne is. Dan sal ons sien waar ons staan,” bieg hy. Hierdie kragmeting vind by Hoërskool Roodepoort plaas.
Die eersterugbyspan het met die wegholsege oor hul buurman voortgebou op hul sukses sover in die liga na oorwinnings van 99-5 teen Carlton Jones en 25-14 oor Allen Glen ‘n week of twee gelede. Alhoewel Roodies in hulle eerste ligawedstryd met11-8 teen Nic Diederichs vasgeval het, tel dit nie omdat die Krugersdorp-skool glo drie o.21-spelers op die veld gehad het. Daar is gesê dat Roodies die volle ligapunte weens dié tameletjie kry.





