Plaaslike akteur Solomon Cupido grap net
Cupido bly lekker in Roodepoort, sê hy, en sien daarna uit om die jeug se lewensuitkyk te verander.
Die nuwe fliek Ek Joke Net 2 begin eersdaags in teaters draai. Die Record het op Donderdag 27 Maart met die twee hoofspelers, Solomon Cupido en Hannes Brümmer gesels.
Dieselfde poetsbakkers van die eerste fliek is terug in dié nuwe komedie vir ‘n tweede rondte onder die vaandel van die nuutgestigte Komiese Akteurskommissie. Hulle slaan toe wanneer dit die minste verwag word.
In ‘n onderhoud met die Record het Cupido vertel dat hy baie opgewonde is oor hul nuwe fliek. Hy het verduidelik dat hy drama by die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) studeer het en sy eerste rol – in die fliek Karate Kallie – na sy derde jaar in 2008 losgelaan het. Daarin het hy die rol van Errol vertolk. Hy was al te sien in Egoli sowel as in Pantjies Winkel Stories, asook in die flieks Bakgat 2, Bakgat 3, Superhelde, As jy sing en Pad na jou hart.
“Ek het al op skool, in die dramaklas, besef dat ek dit my loopbaan wou maak,” het die 27-jarige akteur gesê.
Oor familie vertel hy, “Ek het in 2012 met die liefde van my lewe getrou; sy is ook ‘n aktrise en sy ondersteun my in alles wat ek doen.
“My droom bly maar om my eie produksies op die planke te bring.
“Ek wil my regisseurwerk opskerp en ek skryf ook in my spaartyd – ek hoop om die jeug van vandag se uitkyk te verander deur die stories wat ek skryf.”
Cupido is tans besig om voor te berei vir sy rol in die verhoogstuk Droomkind wat in die Staatsteater in Pretoria op Vrydag 4 April open.
“Ek bly in Roodepoort, en ek geniet dit omdat dit meestal stil en rustig hier is.”
Cupido kyk op na plaaslike akteurs insluitend Deon Lotz, Terrance Bridget, Nico Panagiotopoulos en Merlin Balie, en na internasionale akteurs Denzel Washington, Leonardo DiCaprio en Will Smith.
Ek Joke Net 2 word landswyd vanaf Donderdag 1 Mei in Ster Kinekor-teaters vertoon.



