Behalwe dat dit hul primêre taak is om motoriste met brandstof te bedien is ENGEN Ouklip ook nie skaam om hul geld in die gemeenskap terug te pomp nie.
Dit nadat twee plaaslike en nogal mededingende skole, Laerskole Helderkruin en Roodekrans bevestig het dat dié vulstasie se bestuur albei se komende gholfdae sal borg.
Volgens Isobel Mitchley, woordvoerder van Laerskool Helderkruin, is dit ‘n voorreg om deur Engen geborg te word. “Hulle bedien die gemeenskap en veral die jeug van ons toekoms.
“Walda Nxanga, Engen Areabestuurder het ons kom verras saam met Johan Smit van Engen Ouklip. Engen borg vir die afgelope 18 jaar ons gholfdag en het nou selfs meer vir Laerskool Helderkruin gegee.
Hulle het ook onderneem om die gholfdag weer in 2014 te borg. Sonder hierdie borgskappe wat die skool ontvang is daar baie projekte wat nie afgehandel kan word nie.
“Ons wil graag dankie sê aan Johan van Engen Ouklip wat ‘n belegging in Laerskool Helderkruin se toekoms doen. Die Kruiners sal beslis die diensstasie, bakkery en Steers ondersteun wat alles onder een dak by die garage is.”
Alhoewel Kruiners nie ‘n bedrag aangedui het nie, sê Marike Cronje van Laerskool Roodekrans dat R10 000 aan hulle geskenk is.
“Engen het ‘n jarelange betrokkenheid by Laerskool Roodekrans se gholfdag, en daarom het die Areabestuur van Engen besluit om ook ‘n bydrae in die vorm van ‘n borgskap van R10 000 te gee.
“Die oorhandiging is amptelik tydens ‘n saalperiode op Maandag 24 Maart gedoen toe Johan en Walda die tjek aan ons hoof, Deon Rousseau gegee het.
“Roodekrans se jaarlikse gholfdag vind vanjaar op 23 Oktober plaas.”




