Pragtige monsters blom in Roodepoort-Noord
“Ek lees net van moord en roof, protes en stelery, en dit moet nou end kry,” het Gert de Lange Maandag 17 Maart spottend vir die Record-joernalis gesê. De Lange weier eenvoudig om nog ‘n negatiewe berig in die Record te lees voordat hy stories oor sy tuin gedeel het. Van voor af lyk sy …
“Ek lees net van moord en roof, protes en stelery, en dit moet nou end kry,” het Gert de Lange Maandag 17 Maart spottend vir die Record-joernalis gesê. De Lange weier eenvoudig om nog ‘n negatiewe berig in die Record te lees voordat hy stories oor sy tuin gedeel het.
Van voor af lyk sy huis in 5de Laan, Roodepoort-Noord, net soos enige ander een, maar die tuin agter die huis vertel vele stories van familie, ekstra inkomste en vêr reise op soek na die volgende vrug vir die tuin. De Lange, wat hoofsaaklik vrugte agter in sy erf koester, plant ook roosmaryn en komkommers. Sy trots is egter die Delicious Monster wat al ‘n meter of twee by ‘n boom opgerank het en pragtige blomme ten toon stel.
Die ‘monster’ waarvan die wetenskaplike naam die Monstera deliciosa is, kom hoofsaaklik in Sentraal-Amerika en die reënwoude van Mexiko voor en dra ‘n eetbare vrug.
“Sover ek weet, kom dié rankplant ook nogal algemeen in Limpopo voor,” vertel De Lange. Die vrug en blom van dié plant stem baie ooreen met ‘n aronskelk aangesien die plant deel vorm van die Araceae familie waaraan onder andere die aronskelk of varkoor behoort. Navorsing op tuinmaakwebtuistes dui daarop dat die Delicious Monster aangepas is as ‘n huisplant vir versieringsdoeleindes. In hierdie geval blom die plant nie sommer nie, maar die blomme aan De Lange se plant is al sowat 20cm groot.
Lees meer oor De Lange se wonderlike tuin in die volgende gedrukte uitgawe van die Record.



