Latest SportSportUpdate

Sables sorg vir dramatiese sege oor Wolwe

Veggees die wenresep in 40-34 oorwinning sê afrigter.

Impala en Brakpan moet een ding in ag neem wanneer hulle met Sables (Poorte-tweedespan) in die Assupol-reeks te doen kry – hul veggees.

Dit is bewys toe Sables op die mees dramatiese wyse vir Kempton Wolwe in Saterdag 8 Maart se Assupol-reeks kragmeting met 40-34 afgereken het.

Met vyf minute se speeltyd oor en die Wolwe wat met agt punte (34-26) voor was, het Sables nie opgegee nie en twee drieë gaan druk.

Die eerste reg langs die pale deur die flank Wi-André Erasmus en die laaste reg onder die pale deur die ratse vleuel Liam McKay.

Afrigter van Sables, Vic Volschenk het sy span geloof vir hul veggees maar sê dat hulle al lankal die wedstryd buite die opponent se beheer moes neem.

“Ons het hulle oorheers in alle fasette. Ek dink hulle kon slegs drie van hul eie skrums wen. Ek voel ons moes dit nie tot die laaste minuut gelos het vir ‘n oorwinning nie.

“Ons het beslis nie op tye by ons wedstrydplan gehou nie en die Wolwe het hul kanse gevat as ons drooggemaak het.

“Ons as afrigters is wel baie trots op die manier hoe die ouens teruggekom het. Ons het vyf punte in die sak en dis wat saakmaak.”

Spelers wat beslis uitgestaan het was die vleuel Liam McKay wat twee drieë gedruk het, die vaste vyf wat viral in die skrums gedomineer het en die losskakel Jaco Posthumus wat 20 punte aangeteken het.

‘n Taai taak wag nou op Sables wanneer hulle met Rustenburg Impala op Saterdag 15 Maart te doen gaan kry. Impala sal honger wees vir ‘n wen veral nadat hulle teen Brakpan die afgelope naweek vasgeval het. Om te verloor is nie ‘n opsie vir Impala nie.

Puntemakers vir Poorte teen die Wolwe:

• Drieë: Liam McKay (2), Eugene Lourens (1), Wi-André Erasmus (1).

• Doelskoppe: Jaco Posthumus (4)

• Strafskoppe: Jaco Posthumus (3)

• Skepskop: Jaco Posthumus (1)

Related Articles

Back to top button